Nuus 07:00
BULLETIN 18 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi verwerp bewerings dat die regering nie die Nasionale Vervolgingsgesag ondersteun nie
# Iran se ambassadeur in Brittanje sê hulle het geen voorneme om ‘n kernwapen te bou nie
# En krieket: Die Protea-vroue beklink die eendagreeks teen die Wes-Indiese Eilande
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het bewerings verwerp dat die regering nie die Nasionale Vervolgingsgesag ondersteun nie. Die NVG het sy vermoënswerkverrigting verbeter van 50-persent in 2020/2021 tot 73-persent in 2023/2024. Die verbetering word toegeskryf aan beter toegeruste en meer bevoegde organisasies. Kubayi het gister voor die Nasionale Raad van Provinsies verskyn en sê daar was lesse te leer uit die mislukte vervolging van Timothy Omotoso en Moroadi Cholota:
# Die uitvoerende hoof van die Padongelukkefonds, Collins Letsoalo, het die Hooggeregshof in Pretoria genader in ‘n dringende poging om sy skorsing ter syde te stel. Hy sê sy eie lewe en dié van sy gesin is moontlik in gevaar indien sy sekerheid wegval. News24 berig Letsoalo voer aan hy het dreigemente ontvang tydens sy ampstermyn en hy vrees ernstige gevolge. Hy is geskors nadat hy na bewering geweier het om ‘n vergadering van die Parlement se Staande Komitee oor Openbare Rekeninge by te woon, maar hy ontken die bewering. Die saak word volgende week aangehoor.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik, doen ‘n beroep op minister van Vervoer, Barbara Creecy om boetes vir mense wie se rybewyse vertraag word as gevolg van die nasionale agterstand, te kanselleer. Die agterstand van 700-duisend kaarte is veroorsaak nadat die enigste lisensiedrukker-masjien in die land gebreek het. Stefanie Fick van OUTA eis dat ‘n moratorium ingestel word op boetes vir motoriste wat wag op lisensiehernuwings, en doen ’n beroep op die regering om die geldigheid van rybewyse tot tien jaar te verleng:
# Die DA het die polisie veroordeel na ‘n skorsing van slegs twee maande vir ‘n beampte wat met bendes verbind word, en betrap is toe hy dwelms in ‘n polisievoertuig vervoer het. Die DA-lid, Nicholas Gotsell, beweer die Wes-Kaapse polisiekommissaris Thembisile Patekile het die skorsing goedgekeur, ten spyte van ‘n tribunaal-aanbeveling dat hy afgedank moet word. Gotsell versoek ‘n volledige hersiening van die polisie se dissiplinêre reëls en sal parlementêre vrae indien om verminderde strawwe onder Patekile se ampstermyn bloot te lê. Hy sê dit ondermyn openbare vertroue en moedig korrupsie in die polisie aan.
# Iran se ambassadeur in die Verenigde Koninkryk, Seyed Ali Mousavi, hou vol sy land het geen voorneme om ‘n kernwapen te bou nie. Amerikaanse intelligensie-assesserings het gevind Iran is nie aktief besig om ʼn kernwapen te bou nie. Dit is in sterk teenstelling met Israel se mening dat Iran binnekort kernwapens sal hê. Mousavi het aan lede van die Laerhuis se Buitelandse Sake-komitee gesê Iran se kernbedrywighede is vir vreedsame doeleindes:
# Krieket: Die Protea-vroue het die Wes-Indies volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode met 166 lopies verslaan in die derde en laaste eendagwedstryd in Barbados en die reeks met 2-1 beklink. Tazmin Brits het 101 lopies aangeteken in Suid-Afrika se beurt wat weens reën verkort is. Die besoekers se telling was 278 vir ses in 45 boulbeurte en vier balle. In antwoord daarop was die Wes-Indies op 121 almal uit en nie naby die hersiene teiken van 294 nie. Masabata Klaas spog met ʼn loopbaanbeste van vier paaltjies vir 25 lopies in ses boulbeurte.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 24-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-766-dollar-20-sent. Die prys van goud is drie-duisend-385-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….