Nuus 07:00
Bulletin
BULLETIN 11 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ACDP sê Suid-Afrika sal nie kan bewys Israel se doel is volksmoord nie
# Die Stad Kaapstad word beskuldig van dubbele standaarde oor die verwydering van Palestynse graffiti
# En, 71 staatsuitgereikte vuurwapens het oor vyf jaar by die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en Korrektiewe Dienste verdwyn
# Die ACDP glo Suid-Afrika sal nie kan bewys Israel se bedoeling is volksmoord teen die Palestyne soos die Konvensie op Menseregte vereis nie. Die Internasionale Geregshof in Den Haag in Nederland hoor vandag en môre Suid-Afrika se volksmoord-saak teen Israel aan. Die ACDP-leier Kenneth Meshoe, sê die Suid-Afrikaanse regering kon ‘n baie meer opbouende rol gespeel het om Hamas te oorreed om gyselaars vry te laat en voortdurende vrede in die Midde-Ooste te bring:
# Die Palestynse Solidariteitsveldtog en African Artists Against Apartheid veroordeel die Stad Kaapstad se verwydering van muurskilderwerk van die Palestynse vlag in gemeenskappe wat deur apartheid en gedwonge verskuiwings geraak is. Die optrede het woede ontlok terwyl kritici wys op die snel optrede om pro-Palestynse boodskappe te verwyder terwyl ou graffiti wat bendegeweld verheerlik, geïgnoreer is. Die DA-geleide metro word beskuldig van skynheiligheid in sy hantering van solidariteitsoptrede en die begunstiging van sekere internasionale kwessies bo Palestina. Die organisasies beplan om graffiti-verordeninge uit te daag om gemeenskapsregte te beskerm.
# Die DA het onthul daar is ʼn toksikologie-agterstand by forensiese chemielaboratoriums in Kaapstad, Johannesburg en Pretoria, met 37-duisend-962 toetse uitstaande. Die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, het geantwoord op ʼn vraag van die DA in die Parlement en gesê kwessies soos ontoereikende infrastruktuur, stukkende toerusting, beurtkrag, probleme met watervoorsiening, die Covid-19-pandemie en tekorte aan menslike hulpbronne, is bydraende faktore tot die agterstand. ʼn Woordvoerder van die DA, Michelle Clarke, eis antwoorde oor die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens se pogings om die vermoë ten opsigte van toksikologie uit te brei:
# Minstens 71 staatsuitgereikte vuurwapens het die afgelope vyf jaar by die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en Korrektiewe Dienste verdwyn. Volgens parlementêre antwoorde is 53 SANW-vuurwapens en 18 van die departement se vuurwapens gesteel of het weggeraak. Ses-duisend-808 rondes ammunisie het ook oor dieselfde tydperk by die SANW verdwyn, en 295 rondes by die departement. Korrektiewe Dienste het alle voorvalle by die polisie aangemeld, maar niemand is in hegtenis geneem nie. Interne tugstappe het gelei tot 19 skuldigbevindings en twee afdankings.
# Rugby: Die Rugbyvoetbalunie het strenger strawwe bekendgestel vir spelers en afrigters wat skeidsregters in Engeland mishandel. Nege-en-veertig-persent van die wedstrydbeamptes wat deur die unie ondervra is, het gesê dat hulle in onlangse seisoene aan mishandeling blootgestel was. Persone wat op enige vlak van die spel in Engeland skuldig bevind word, sal nou ‘n minimum van twee, drie of vier ekstra weke saam met hulle straf ontvang, afhangende van die intreevlak van hul oortredings. Boetes, briewe van verskoning en skeidsregterskursusse sal steeds vir dissiplinêre panele beskikbaar wees wanneer hulle uitsprake oorweeg.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 46-duisend-550-dollar-5-sent. Die prys van goud is twee-duisend-31-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-8-sent per vat.
# En om mee af te sluit, die films Oppenheimer en Barbie loop voor met benoemings vir die 30ste Screen Actors Guild-toekennings. Albei het vier benoemings ontvang, insluitend vir beste toneelspel deur ʼn rolverdeling in ʼn rolprent. Succession met hulle vyf het die meeste televisiebenoemings ontvang gevolg deur Ted Lasso, The Bear en The Last of Us. Akteurs wat benoem is, sluit in Margot Robbie vir Barbie, Bradley Cooper vir Maestro en Emma Stone vir Poor Things. Die SAG-toekennings word op 24 Februarie vir die eerste keer ooit wêreldwyd regstreeks op Netflix gestroom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….