Nuus 07:00
BULLETIN 13 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa gaan vandag die vloedgeteisterde gebiede in die Oos-Kaap besoek
# Paul Mashatile sê hy was nie betrokke by die ondersoek na sy voormalige lyfwagte nie
# En die VN-waghond bevind Iran voldoen nie aan kernbeskermingsmaatreëls nie
# President Cyril Ramaphosa besoek vandag vloedgeteisterde gebiede in die Oos-Kaap. Dit volg nadat meer as 70 mense sedert Maandag in die provinsie dood is na oorstromings. Sowat tien-duisend mense is dakloos gelaat en drie-duisend huise is beskadig of vernietig. Die OR Tambo- en Amathole-distriksmunisipaliteite het die ergste deurgeloop. Ramaphosa het gister by ‘n beraad in Kaapstad gesê hy sal die rampreaksie se vordering dophou en met die gemeenskappe wat geraak is, kontak maak:
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê hy verwelkom die uitslag van die polisie se tugondersoek wat agt gewese lede van sy BBP-beskermingspan vrygespreek het. Dit volg ten spyte van videomateriaal wat wys hoe hulle in 2023 ʼn burgerlike op die N1 in Johannesburg aanrand. Die polisie se interne tugkomitee het bevind die video mag nie as bewys toegelaat word nie. Mashatile het gister in die Nasionale Vergadering op vrae gereageer en gesê hy was nooit betrokke by die tugproses nie en het nooit ʼn ontmoeting met die slagoffer aangevra nie.
# Die Kabinet ondersoek tans moontlikhede om meer gereeld opnames te doen ten einde data-insameling oor indiensneming in die informele sektor te verbeter. Dit volg ná kommer oor hoe akkuraat die huidige arbeidsyfers is wat in die onlangse kwartaallikse arbeidsmagopname aangeteken is. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die feit dat daar nie ‘n nasionale register van informele besighede is nie, is ‘n groot uitdaging wat die vermoë beperk om akkurate steekproewe uit te voer:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sal die Gauteng-afdeling van die Uitgebreide Openbare Werke-program se luistertoer in Johannesburg begin. Die toer gee gemeenskappe die geleentheid om hulle ondervindings te deel. Die ministerie sê dit sal help om die visie te hervorm van programme wat gemik is op lang-termyn- sosio-ekonomiese bemagting. Daarbenewens sal die minister ook ’n gradeplegtigheid behartig vir deelnemers aan die EPWP Nasionale Jeugdiens wat in ambagte gekwalifiseer het.
# Die Internasionale Atoomenergie-agentskap het ʼn resolusie aanvaar wat verklaar dat Iran nie sy verpligtinge nakom wat kernwapenverspreiding betref nie. Negentien van die 35 lande op die agentskap se raad het ten gunste van die mosie gestem wat die Verenigde Koninkryk, Frankryk en Duitsland ingedien het. Die resolusie verklaar dat Teheran herhaaldelik nie kon verduidelik en demonstreer dat sy kernmateriaal nie bewerk word vir militêre gebruik nie. Iran het in reaksie daarop gedreig om sy kernaktiwiteite uit te brei.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hy sal voortgaan met sy span-rotasiebeleid. In 2024 het hy 50 spelers in 13 toetswedstryde gebruik en 12 nuwelinge ingespan. Erasmus het nege nuwelinge in sy groep van 55 vir die kragmeting teen die Barbarians op 28 Junie en toetse teen Italië en Georgië in Julie. Hy sê hulle wil iets soortgelyk aan verlede jaar doen waar die senior spelers en sommige van die jonger spelers ʼn bydrae op die veld lewer:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 24-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-357-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-425-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….