Nuus 07:00
BULLETIN 11 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa wil die G7-beraad in Kanada gebruik om samewerking te bevorder
# President Trump sê die soldate sal in Los Angeles bly totdat daar nie meer gevaar is nie
# En rugby: Riley Norton sal ‘n sterk Junior Bok-groep lei by die Onder 20-kampioenskap in Italië
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika moet homself herposisioneer in die onstuimige geopolitieke landskap. Hy woon volgende week die G7-leiersberaad in Kanada by. Besprekings sal gaan oor leierskap en samewerking vir ‘n omvattende benadering tot energiesekerheid met die fokus op tegnologie en vernuwing. Ramaphosa sê hy sal met wêreldleiers vergader om oplossings te vind vir energiesekerheid en verwante kwessies wat verband hou met Suid-Afrika se G20-presidentskap:
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê sy is hoopvol dat die Parlement vandag die hersiene Fiskale Raamwerk sal goedkeur. Na die aanvaarding moet kabinetslede teen 13 Junie aangepaste strategiese en prestasieplanne indien. Die Parlement se komitee vir Finansies het verlede week goedkeuring gegee vir die raamwerk wat die 2025-begroting ondersteun, en die regering in staat stel om voort te gaan. Die minister het die regering se verbintenis tot fiskale verantwoordelikheid, verbeterde dienslewering en die bekamping van werkloosheid en ongelykheid beklemtoon:
# Die jaarlikse Absa SACCI Township Ekonomie en Ontwikkelingskonferensie vind hierdie week by die Umfolozi-oord in Empangeni, KwaZulu-Natal, plaas. Die geleentheid sal fokus op die ekonomiese impak van township-ondernemings op streeksontwikkeling. Die konferensie sal die geleentheid bied vir interaktiewe werkswinkels, netwerksessies en betrokkenheid met korporatiewe, akademiese en regeringsbelanghebbendes. Dit is daarop gemik om geleenthede te ontgin, belangrike ekonomiese uitdagings aan te spreek en groei vir mikro-, klein- en mediumgrootte ondernemings regoor Suid-Afrika te stimuleer.
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, het hartseer uitgespreek na die dood van ʼn 34-jarige onderwyser van Tetelo Secondary School in Soweto. Volgens berigte het die onderwyser verlede Woensdag ʼn e-taxi ontbied waarna hy verdwyn het. Hy is Maandag dood gevind. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die dood van so ʼn waardevolle opvoeder is ʼn verlies wat kinders se toekoms raak:
# President Donald Trump het nie ʼn sperdatum gestel vir die onttrekking van die Nasionale Wag en seesoldate in Los Angeles nie. Dit volg terwyl betogings oor sy administrasie se optrede teen immigrasie voortgaan. Trump het Saterdagaand tydens toenemende betogings opdrag gegee dat twee-duisend lede van die Nasionale Wag ontplooi word. Hy het die getal Maandag tot vier-duisend verdubbel en 700 seesoldate is ook ontplooi. Trump sê die Nasionale Wag en die seesoldate sal daar bly tot daar geen gevaar is nie:
# Rugby: Riley Norton lei ʼn sterk Junior Springbok Onder 20-groep by die Wêreldrugby-kampioenskap wat van 29 Junie tot 19 Julie in Italië plaasvind. Die groep sluit Phiwayinkosi Kubheka en Ian van der Merwe in wat nog nie voorheen vir die SA Onder 20’s gespeel het nie, terwyl Jaco Grobbelaar, Stephanus Linde en Jaco Williams terugkeer na die groep. Afrigter Kevin Foote sê hulle het 30 spelers gekies wat vasbeslote is om die land trots te maak met hulle prestasie op die veld en gedrag van die veld af.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-590-dollar-60-sent. Die prys van goud is drie-duisend-333-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….