Nuus 07:00
BULLETIN 9 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi sê advokaat Batohi het teruggekrabbel oor haar bewerings oor infiltrering
# AfriForum dagvaar die Stad Tshwane oor die nuwe skoonmaakheffing
# En tennis: Alcaraz klop Sinner en seëvier in die Franse Ope
# Die nasionale direkteur van Openbare Vervolgings, Shamila Batohi, het teruggekrabbel oor haar bewerings dat die Nasionale Vervolgingsgesag deur skelm elemente geïnfiltreer is. Dit is volgens die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, wat sê Batohi het aan haar gesê sy het die verkeerde woord gebruik. Kubayi sê alhoewel Batohi haar bewerings terugtrek, het sy steeds kommer uitgespreek oor bewerings van samespanning. Die minister sê sy sal die kwessie met president Cyril Ramaphosa bespreek om moontlik ‘n ondersoek te begin na aanklaers wat by sulke praktyke betrokke is.
# Die DA het dringende parlementêre vrae aan die minister van Polisie, Senzo Mchunu, voorgelê om vas te stel of verdere wangedrag blootgelê is in die verslag deur die Inspekteur-Generaal van Intelligensie. Die party sê dit volg kort na die voltooiing van ‘n ondersoek na ‘n onwettige eiendom ter waarde van 59-miljoen-rand wat deur Misdaadintelligensie aangekoop is. Dianne Kohler-Barnard van die DA sê wetstoepassingsagentskappe moet hierdie saak met die dringendheid hanteer wat dit toekom:
# AfriForum sê hy gaan die Stad Tshwane hof toe neem om hom te dwing om die instelling van die nuwe skoonmaakheffing wat by verlede week se raadsvergadering goedgekeur is, te hersien. Die maandelikse heffing van sowat 200-rand per maand vanaf 1 Julie, word gehef op alle eiendomme wat nie tans die metro se vullisverwyderingsdiens gebruik nie. AfriForum-woordvoerder Deidré Steffens sê die heffing is ʼn bykomende belasting wat eienaars bykomend tot die bestaande eiendomsbelasting moet betaal:
# Die Forum for South Africa versoek die Nasionale Vervolgingsgesag om die klagtes van brandstigting, openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging teen vyf studente van die Walter Sisulu-universiteit in die Oos-Kaap te laat vaar. Die leier van die forum, Tebogo Mashilompane, sê hulle is gearresteer tydens ‘n betoging nadat die man wat verbind word met die dood van Sisonke Mbolekwa in April borgtog van tienduisend-rand toegestaan is. Hy sê die universiteit het nie die bekommernisse van die studente aangespreek nie, en daarom het hulle betoog:
# Minstens vier mense is Sondag in Rafah dood op pad na ʼn voedselverspreidingsentrum wat deur die Gaza Humanitêre Stigting beheer word. Die Israelse weermag sê soldate het waarskuwingskote afgevuur nadat hulle ʼn groep wat hulle genader het en as ʼn bedreiging beskou is, mondelings gewaarsku het. Die Gaza Humanitêre Stigting se bedrywighede in die kusgebied loop deur onder noodlottige skietvoorvalle met sowat 110 Palestyne wat volgens berigte die afgelope week dood is.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, het ná twee stelle agter herstel en drie kampioenskapspunte afgeweer om die Italianer Jannik Sinner in ʼn epiese Franse Ope-eindstryd te verslaan. Die 22-jarige Spanjaard het die wêreld se nommer een in vyf ure en 29 minute met 4-6, 6-7, 6-4, 7-6, 7-6 verslaan in die langste Franse Ope-eindstryd in die geskiedenis. Alcaraz, wat die vyfde jongste speler is om vyf Grand Slam-titels te wen, sê hy het deur die hele wedstryd in homself geglo:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-26-sent teen die euro en 24-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-689-dollar-70-sent. Die prys van goud is drie-duisend-308-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….