Nuus 07:00
BULLETIN 7 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen herhaal die belangrikheid van ekonomiese groei
# Shamila Batohi bevestig planne om weer aansoek te doen vir die uitlewering van die Guptas
# En Nederland sal op 29 Oktober ’n blitsverkiesing hou nadat die regering ineengestort het
# Die DA-leier en minister van Landbou, John Steenhuisen, sê ekonomiese groei moet die topprioriteit wees vir die regering van nasionale eenheid wat bykans ‘n jaar gelede gevestig is. Steenhuisen het by die Black Business Council die huidige groeikoers van 0,3-persent gekritiseer en dit onaanvaarbaar genoem. Hy het alle ministeries aangespoor om burokrasie te verminder, prestasie te verbeter en te fokus op hervormings om lae groei, hoë skuld en stygende werkloosheid die hoof te bied:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê hy het ‘n nuwe aansoek voorberei om die Gupta-broers uit te lewer vanaf die Verenigde Arabiese Emirate. Dit volg te midde van kritiek teen die NVG na die Hooggeregshof in die Vrystaat beslis het dit is onregmatig om Ace Magashule se voormalige persoonlike assistent, Moroadi Cholota, uit te lewer in die asbesdak-bedrogverhoor. Die NVG-hoof Shamila Batohi het aan Newzroom Afrika gesê nuwe pogings word nou aangewend om geregtigheid te laat geskied:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku teen ‘n kouefront met ysige toestande, reën en sneeu in dele van Suid-Afrika van môreaand tot Maandag. Die Wes-Kaap sal vandag eerste getref word, met sterk wind en verspreide buie. Sneeu word voorspel oor hoogliggende gebiede in die Wes- en Oos-Kaap, Lesotho en die Drakensberge. Die weerdiens waarsku temperature in Gauteng, KwaZulu-Natal, die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes sal daal. Inwoners word versoek om gereed te maak vir koue en nat toestande.
# Nederland gaan op 29 Oktober ‘n blitsverkiesing hou nadat die regse leier Geert Wilders uit die regerende koalisie onttrek het, wat die regering omvergewerp en politieke chaos veroorsaak het. Die stemming in die Europese Unie se vyfde grootste ekonomie en belangrikste wêreldwye uitvoerder sal noukeurig in Europa dopgehou word, waar regse partye beduidende steun verwerf het. Meningspeilings dui daarop dat Wilders se Vryheidsparty kop aan kop is met die linkse Groen-groep van die voormalige vise-president van die Europese Kommissie, Frans Timmermans.
# En nou vir sportnuus:
# Tennis: Suid-Afrika se rolstoel-tennisster, Kgothatso Montjane is vir die vierde keer ‘n Grand Slam-kampioen. Die 39-jarige het ‘n tweede rolstoeldubbelspel in die Franse Ope saam met Yui Kamiji van Japan gewen. Montjane en Kamiji het Xiaohui Li en Ziying Wang van China met 4-6, 7-5 geklop. Die tweede Suid-Afrikaner in die rolstoelloting, Donald Ramphadi, moes egter met die naaswennerplek tevrede wees saam met sy Turkse maat Ahmet Kaplan. Die twee het die eindstryd van die kwadruplegiese rolstoeldubbelspel gehaal, maar is met 6-3, 6-4 geklop deur Guy Sasson van Israel en Niels Vink van Nederland.
# En rugby: Daar sal geen genade wees wanneer die Bulle en die Haaie mekaar vandag op Loftus in Pretoria aandurf nie. Dit gaan hier oor ‘n plek in die eindronde van die Verenigde Rugbykampioenskap. Die afskop op Loftus is kwart-oor-ses. In die ander halfeindstryd is Leinster op hulle tuisveld in Dublin om die Glasgow Warriors te pak. Die afskop is om kwart-voor-vier, Suid-Afrikaanse tyd. Dis onwaarskynlik, maar as die Warriors Leinster klop, sal die eindstryd in Suid-Afrika plaasvind.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….