Nuus 07:00
BULLETIN 5 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa bring hulde aan die jazz-promotor Rashid Lombard
# Sakevertroue daal te midde van handelspanning en plaaslike uitdagings
# En krieket: Kagiso Rabada is geskors omdat hy positief getoets het vir kokaïen
# President Cyril Ramaphosa het sy hartseer uitgespreek na die dood van die bekende fotograaf, kulturele aktivis en jazz-promotor, Rashid Lombard. Die 74-jarige Lombard is gister in Kaapstad dood. Hy het in 1997 ‘n maatskappy gestig wat geleenthede bestuur en in 2000 gelei het tot die ikoniese Kaapstad Internasionale Jazz-fees. Lombard het in 2014 die gesogte Nasionale Orde van Ikhamanga in Silwer ontvang vir sy bydrae tot kuns en kultuur. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Suid-Afrika het ʼn kulturele ikoon verloor:
# Die DA dring aan op ‘n formele prestasie-oorsig van die minister van Toerisme, Patricia de Lille en haar departement, oor die wanbestuur van die toerisme-ekwiteitsfonds. Volgens die DA is slegs 125-miljoen-rand van die 466-miljoen-rand wat toegeken is, uitbetaal, wat baie informele nedersettings- en landelike toerisme-ondernemings in die steek laat. Haseena Ismail van die DA blameer swak toesig en ‘n mislukte vennootskap met die finansieringsagentskap vir klein ondernemers:
# ‘n Rand Merchant Bank-opname, saamgestel deur die Buro vir Ekonomiese Navorsing, dui aan Suid-Afrikaanse sakevertroue het in die tweede kwartaal van 2025 van 45 tot 40 punte gedaal. Die daling word gedryf deur die Amerikaanse president Donald Trump se nuwe tariewe en voortdurende plaaslike logistieke beperkings. Slegs groothandelaars het groter vertroue aangemeld terwyl alle ander sektore gedaal het. RMB sê meer moet gedoen word om groei te laat herleef ondanks ‘n verlaging in die terugkoopkoers tot 7,25-persent.
# Die Regsentrum vir Vroue veroordeel die doodsdreigement wat die sekretaresse, Andiswa Mengo, na bewering ontvang het, nadat sy die Oos-Kaapse Regterpresident, Selby Mbenenge, beskuldig het van seksuele teistering. eNCA berig ‘n handgeskrewe nota wat lees “a bullet is waiting for you” is verlede Vrydag op haar lessenaar gevind. Mengo se saak dien nou voor die Regterlike Gedragstribunaal en kan lei tot ‘n ampsklag teen Mbenenge. Die Sentrum sê die dreigement beklemtoon die gevare wat vroue in die gesig staar as hulle teistering aanmeld. Hulle eis dringende beskerming en optrede deur wetstoepassers.
# Die Amerikaanse Kongres-begrotingskantoor sê president Donald Trump se Belasting- en Bestedingswetsontwerp sal oor die volgende dekade 42,73-duisend-miljard-rand by die federale regering se skuld voeg. Die wetsontwerp wat aansienlike belastingverligting en groter besteding op verdediging bevat, is verlede maand deur die Huis van Verteenwoordigers goedgekeur en word tans in die Senaat oorweeg. Die Republikeinse Huis se meerderheidsleier, Steve Scalise, kritiseer die agentskap se ontleding en sê dit ignoreer die inkomstegroei wat hierdie wetsontwerp sal bring:
# Krieket: Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport sê Kagiso Rabada se skorsing van een maand vroeër vanjaar was nadat hy positief getoets het vir kokaïen. Die Protea-snelbouler het in April teruggekeer van die Indiese Premierliga by Gujarat Titans en onthul hy het nie ʼn dwelmtoets geslaag nie. Die instituut sê Rabada is in Januarie getoets en Benzoylecgonine, ʼn metaboliet van kokaïen, is opgespoor. Die 30-jarige speler sal volgende week die Proteas se boulaanval lei in die Wêreld-toetskampioenskap se eindstryd teen Australië op Lord’s.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 24-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-67-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-376-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….