Nuus 07:00
BULLETIN 4 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement steun die hofuitspraak oor John Hlophe
# Die Internasionale Lugvervoervereniging voorspel groter winste in 2025
# En krieket: Die Royal Challengers Bengaluru is die IPL-kampioene
# Die Parlement sê hy aanvaar die Wes-Kaapse Hooggeregshof se uitspraak oor John Hlophe van die MK-party se aanstelling as een van ses LP’s op die Regterlike Dienskommissie. Die hof het bevind die Nasionale Vergadering se besluit was nie regmatig of rasioneel nie, aangesien hy as regter in ‘n staat van beskuldiging geplaas is. Die parlementêre woordvoerder, Moloto Mothapo, sê hulle neem kennis van die hof se vertolkende riglyne oor die betrokke grondwetlike voorsiening wat die aanstelling van LP’s op die kommissie betref:
# Die Internasionale Lugvervoervereniging voorspel dat lugrederye wêreldwyd se netto winste in 2025 tot 644-miljard-rand sal styg, teenoor die 57-miljard-rand van verlede jaar. Die vereniging se direkteur-generaal, Willie Walsh, sê laer vliegtuigbrandstofpryse en verhoogde passasiersaanvraag verhoog die winsmarges, ten spyte van wêreldwye mark-onsekerheid. Walsh skat passasiersgetalle kan ongeveer vyf-miljard bereik, met ‘n verwagte algehele inkomste van tot 17-duisend-miljard-rand. Hy het egter gewaarsku dat alhoewel winsgewendheid besig is om te verbeter, die bedryf steeds kwesbaar is vir skokke soos belasting of regulatoriese veranderings.
# Die DA in Gauteng sê die 886,6-miljoen-rand wat by die provinsiale begroting gevoeg is, sal nie ʼn beduidende verskil maak aan dienslewering en inwoners se lewensgehalte nie. Die LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, het gister die provinsiale begroting vir die 2025/2026-boekjaar opnuut voorgelê nadat veranderinge aangebring is ná gewysigde nasionale toewysings. ʼn DA-woordvoerder, Ruhan Robinson, sê dis kommerwekkend dat geen bykomende fondse aan die Gesondheidsdepartement toegeken is nie:
# ‘n Voormalige finansiële beampte van Delmas Laerskool, Larrisa Vern, is tot tien jaar tronkstraf gevonnis nadat sy skuldig gepleit het op 94 aanklagte van bedrog en 555 aanklagte van geldwassery. Die Valke het Vern ondersoek nadat ‘n fluitjieblaser verdagte bonusbetalings aangemeld het. Die skool het byna 2,8-miljoen-rand tussen 2022 en 2024 verloor weens Vern se bedrog. Sy verskyn Donderdag weer in die hof vir verrigtinge van die Batebeslagleggingseenheid.
# Oekraïne sê hy het die Kerch-brug wat Rusland met die Krim verbind, met onderwater-plofstof aangeval. Dis die derde keer dat Kiev die brug teiken sedert Rusland se inval in 2022. Oekraïne se veiligheidsdiens sê hy het een-duisend-100 kilogram plofstof gebruik wat die brug se pilare ernstig beskadig het. Hy voeg by die aanval het ook 34-persent van Rusland se strategiese kruismissieldraers getref wat gebruik is om Oekraïnse stede in die oorlog aan te val.
# Krieket: Die Royal Challengers Bengaluru het die Punjab Kings met ses lopies geklop om hul eerste Indiese Premierliga-titel te buit. Virat Kohli met 43 het die meeste lopies bygedra en RCB het in sy 20 boulbeurte 190 vir nege behaal. Ten spyte van Shashank Singh se onoorwonne 61, is Punjab in antwoord daarop tot 184 vir sewe beperk. Kohli, wat die enigste speler is wat in al 18 IPL-seisoene net vir een span gespeel het, sê hierdie oorwinning is net so veel vir die ondersteuners as vir die span:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-526-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-367-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….