Nuus 07:00
BULLETIN 3 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwelkom die hofuitspraak teen John Hlophe
# Daar is ‘n 14-persent toename in landbou-uitvoere na die VSA
# En Zelensky sê Putin moet nie vir sy aggressie beloon word nie
# Die DA verwelkom sy hofoorwinning teen die MK-parlementslid, John Hlophe, se aanstelling as lid van die Regterlike Dienskommissie. Die Hooggeregshof in die Wes-Kaap het bevind die Parlement se besluit om Hlophe, ‘n afgedankte regter, as lid van die RDK te verkies, was ongrondwetlik en ongeldig. Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, sê die uitspraak handhaaf die oppergesag van die reg en beskerm die integriteit van die regbank.
# Die adjunkminister in die Presidensie, Nonceba Mhlauli, sê die regering is trots op die momentum van die Jobs Boost Outcomes Fund. Die fonds gebruik ‘n vernuwende betaal-vir-prestasie-model om die plasing van jong mense in volgehoue, gehaltewerke te verander. Teen einde Maart was meer as vyf-duisend-400 jong mense ingeskryf wat 65-persent van die program se inskrywingsteiken is. Meer as drie-duisend is in goeie poste geplaas. Mhlauli sê meer as 70-miljoen-rand is aan 11 deelnemende vennote oorbetaal:
# Landbou-uitvoere in Suid-Afrika het in die eerste kwartaal met tien-persent tot 60-miljard-rand gestyg. Belangrike uitvoere sluit in sitrus, wyn en druiwe. Die Landbousakekamer van Suid-Afrika se hoofekonoom, Wandile Sihlobo, sê dit word aangedryf deur beter haweprestasie en ‘n 14-persent styging in verskepings na die VSA. Sihlobo waarsku hierdie verbetering kan onder druk kom weens ‘n dreigende Amerikaanse heffing van 30-persent volgende maand. Sihlobo bly optimisties dat landbou steeds ‘n belangrike werkskepper is al dra dit slegs twee-persent by tot die BBP.
# Die adjunkminister van Polisie, Polly Boshielo, het die grusame moord op die 14-jarige Lukhona Fose in Roodepoort, Gauteng, veroordeel. Die graad 8-leerder van die Ikusasalethu Secondary School in Braamfischerville se geskende liggaam is Sondag in ʼn veld gevind. Haar familie glo sy was ʼn teiken omdat sy as lesbiër identifiseer. Boshielo het Fose se gesin gister besoek en sê die voortgesette aanvalle op vroue, kinders en weerlose groepe wek ernstige kommer:
# Oekraïne se president Volodymyr Zelensky het beklemtoon die sleutel tot blywende vrede is duidelik: Die aggressor moenie enige beloning vir die oorlog ontvang nie. Dit volg ná ʼn tweede ronde vredesonderhandelinge gister in Istanboel tussen Rusland en Oekraïne wat sonder ʼn deurbraak geëindig het. Zelensky het by ʼn beraad in die Litause hoofstad, Vilnius, gesê sanksies teen Rusland is nodig en bygevoeg Moskou se oliehandel moet ernstig beperk word:
# Krieket: Die Internasionale Krieketraad het bevestig dat die 50-boulbeurt Vroue-wêreldbeker wat later vanjaar plaasvind, by vyf plekke in Indië en Sri Lanka gespeel sal word. Indië se weiering vroeër vanjaar om na Pakistan te reis vir die mans se Kampioenetrofee, het die raad genoop om neutrale terreine te vind vir toernooie wat dié nasies aanbied. Die toernooi word in die Indiese stede Bengaluru, Guwahati, Indore en Visakhapatnam, en die Sri Lankaanse stad Colombo gespeel. Dis ʼn neutrale plek waar Pakistan al hul groepwedstryde sal speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-39-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-319-dollar-50-sent. Die prys van goud is drie-duisend-365-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….