Nuus 07:00
BULLETIN 7 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê hy is bereid om die Madlanga-kommissie se sperdatum te verleng
# AfriForum gaan die Inligtingsreguleerder se jongste appèl teen die matriekuitslae teenstaan
# En krieket: Marizanne Kapp haal die T20 Vrouewêreldbeker se Span van die Toernooi
# President Cyril Ramaphosa sê hy is tevrede met die Madlanga-kommissie se werk wat ‘n belangrike stap is na blywende hervorming in die polisie. Die kommissie is aangestel nadat KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, ʼn jaar gelede ʼn mediakonferensie gehou en vermeende korrupsie in die land se strafregstelsel blootgelê het. Ramaphosa het gister by ʼn geleentheid in die Oos-Kaap gesê hy sal enige versoek van die kommissie om die sperdatum uit te stel, oorweeg:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê hy is bemoedig deur die bevindings van die Wêreldbank se studie oor Suid-Afrika se program oor Spesiale Ekonomiese Sones. Die studie het bevind Suid-Afrika het die infrastruktuur, regsraamwerk en institusionele vermoë om dit ʼn program van wêreldgehalte te maak. Tau sê die studie bevestig die program se positiewe uitwerking op die ekonomie. Hy sê die departement sal die Wêreldbank se bevindings en aanbevelings bestudeer en die program uitbrei om sy ekonomiese uitwerking te vergroot.
# AfriForum sê hy sal die Inligtingsreguleerder se jongste poging teenstaan om die publikasie van matriekuitslae te keer. Dit nadat die reguleerder direk by die Appèlhof aansoek gedoen het om verlof tot appèl. Verlede maand het die Hooggeregshof in Pretoria hul aansoek om verlof tot appèl verwerp. Alana Bailey van AfriForum sê vorige hofuitsprake het bevestig die publikasie van matriekuitslae met behulp van eksamennommers beskerm leerders se privaatheid terwyl dit steeds in openbare belang is:
# Die Vryheidsfront Plus sê jare van swak beplanning, swak bestuur en verwaarloosde instandhouding het die waterkrisis in die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit in die Oos-Kaap vererger. Volgens die party het die onlangse vloede dieper probleme blootgelê, met verskeie reservoirs wat leeg of krities laag is, met duisende inwoners wat nie water het nie, en sommige wat verkleurde kraanwater kry. Bill Harington van die VF Plus beweer die metro het slegs 22-persent van sy infrastruktuurbegroting bestee en 44-persent van die poste in die waterdirektoraat is nie gevul nie.
# President Donald Trump van Amerika het Iran weer gewaarsku en gesê sy weermag is bereid om die land se infrastruktuur heeltemal te vernietig indien ʼn diplomatieke ooreenkoms nie bereik word nie. Indirekte onderhandelings tussen Amerika en Iran het verlede week geëindig sonder enige vooruitsig van blywende vrede, ten spyte van ʼn skietstilstand van 60 dae om ruimte te skep vir diplomasie. Trump sê Amerika gaan wen, op watter manier ook al:
# Krieket: Marizanne Kapp is die enigste Suid-Afrikaner in die Internasionale Krieketraad se T20 Vrouewêreldbeker se Span van die Toernooi. Die 36-jarige Kapp het 124 lopies aangeteken en agt paaltjies in die toernooi platgetrek. Die Protea-vroue is egter in die halfeindronde deur Engeland uitgeskakel. Ná ʼn rekord sewende titel het Australië vier spelers in die span: spankaptein Sophie Molineux, Beth Mooney, Ellyse Perry en Ashleigh Gardner. Engeland, die naaswenner, het twee verteenwoordigers: Danni Wyatt-Hodge en kaptein Nat Sciver-Brunt, met een speler elk van Indië, Ierland, Sri Lanka, Pakistan en Skotland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-20-sent teen die dollar, 18-rand-54-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-833-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-139-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….