Nuus 07:00
BULLETIN 10 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Palestynse ambassadeur in Engeland beklemtoon die belangrikheid van Suid-Afrika se saak teen Israel
# Solidariteit vra dringende oplossings vir dokters se frustrasie rondom plasingsprobleme
# En, Tom Cruise gaan oorspronklike films vir Warner Brothers ontwikkel en vervaardig
# Die Palestynse ambassadeur in die Verenigde Koninkryk, Husam Zomlot, sê die uitkoms van Suid-Afrika se saak teen Israel by die Internasionale Geregshof sal belangrike gevolge hê. Suid-Afrika beskuldig Israel van volksmoord in sy oorlog in Gaza. Die hof in Den Haag het môre ‘n verhoor oor die saak. Zomlot het aan die SABC, gesê wat Suid-Afrika doen red nie net Palestyne nie maar die mensdom:
# Solidariteit waarsku oor ‘n kritieke dokters-plasingskrisis wat finansiële en bestuursuitdagings in die Gesondheidsdepartement blootstel. Die vakbond sê ‘n belangrike voorstander van die Nasionale Gesondheidsversekering, Nicholas Crisp van die departement, het ‘n tekort aan dokters ontken, maar bewyse toon tot ‘n duisend junior dokters sukkel om geplaas te word. Solidariteit het versteekte kwessies aan die lig gebring en die probleem toegeskryf aan ernstige befondsingstekorte. Woordvoerder Theuns du Buisson vra die regering om vinnig op te tree en pleit vir privaat sektor-betrokkenheid en opleiding om die voortslepende krisis aan te pak.
# Die DA sê die ontploffingstoneel in Lilian Ngoyi-straat, Johannesburg, is ‘n hartseer bewys van gebrek aan optrede, en verwaarlosing. Die party sê die agteruitgang van die toneel, saam met onlangse oorstromings en ‘n misdaadvlaag, vererger die situasie. Die SA sê winkel-eienaars ondervind geldelike probleme en werksverliese, terwyl beloftes van beter sekerheid nie nagekom word nie. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA sê die straat, wat al ses maande lank verwoes lê, simboliseer die patetiese koalisie se volgehoue versuim om aandag te gee aan inwoners se behoeftes:
# Die Vereniging van Staatsamptenare in die Vrystaat het kommer uitgespreek oor die langdurige waterkrisis in Theunissen, wat plaaslike gesondheidsorg-geriewe nadelig beïnvloed. Volgens die VSA hou onvoldoende watervoorsiening aansienlike uitdagings in vir die klinieke, stel pasiëntsorg in gevaar en verhoog die risiko van besmettings. Aubrey Nappie van die vereniging sê tekorte belemmer noodsaaklike mediese prosedures, sterilisasie en algemene higiëne, wat lei tot ‘n toename in besmettings onder gesondheidsorgwerkers. Nappie doen ‘n dringende beroep op owerhede om vinnig veilige watertoegang vir die gemeenskap te verskaf, veral in gesondheidsorg-geriewe.
# Rugby: Die Bulls se afrigter, Jake White, sê die groep se diepte sal oor die volgende paar weke belangrik wees. Die Bulls sal nie hulle Springbokke beskikbaar hê vir die Kampioenebeker se volgende twee rondes, óf die Verenigde Rugbykampioenskap se derby teen die Lions aan die einde van die maand nie. Dit is nadat SA Rugby op ʼn verpligte blaaskans van vyf weke vir alle Springbokke besluit het. White sê hulle fokus nou op Saterdag se kragmeting teen Bristol:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-999-dollar-54-sent. Die prys van goud is twee-duisend-31-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-93-sent per vat.
# En, laastens: Die bekroonde akteur, Tom Cruise, het ʼn nuwe ooreenkoms met Warner Brothers Discovery onderteken om teaterfilms te ontwikkel en vervaardig. Die flieks sal ʼn mengsel wees van oorspronklike produksies en franchise-films met Tom Cruise in die hoofrol. Hy het in die verlede by Warner Bros gewerk, maar dis reeds ʼn dekade sedert hy in die ateljee se Edge of Tomorrow verskyn het. Die maatskappy sê hy verwelkom Cruise terug en sien daarna uit om in die jare vorentoe nog van sy besondere gawes op die skerm uit te beeld.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….