Nuus 07:00
BULLETIN 2 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Amerikaanse ambassade sê nog Afrikaner-vlugtelinge is op pad na Amerika
# Altesaam 31 mense is dood naby ‘n hulpverspreidingsentrum in Gaza
# En tennis: Alcaraz en Swiatek is deur na die Franse Ope-kwarteindronde
# Die Amerikaanse ambassade in Pretoria sê vlugtelinge uit Suid-Afrika kom steeds op handelsvlugte in Amerika aan as deel van die voortsetting van die Afrikaner-hervestigingsprogram. Verlede maand het ‘n groep van 49 Afrikaners na Amerika vertrek nadat hulle glo beweer het hulle is volksmoordslagoffers en soek vlugtelingstatus. Die ambassade het aan News24 gesê hy oorweeg navrae van Suid-Afrikaners wat belangstel om in Amerika te hervestig. Hy sê hulle kontak individue wat kwalifiseer vir onderhoude en verwerking.
# Die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het ‘n beroep op alle inisiasieskole gedoen om te verseker dat hulle behoorlik geregistreer is en voldoen aan die vereistes voor die winterinisiasieseisoen. Met die bekendstelling van die Veilige Bewusmakingsveldtog oor Gewoonteregtelike Inisiasie oor die naweek het Hlabisa gevra vir nul sterftes, na 90 sterftes verlede jaar. Hy het beklemtoon dat alle inisiasieskole moet verseker dat die veiligheid en welstand van inisiasie-kandidate hierdie seisoen die hoogste prioriteit geniet:
# Die United Civic Society in Action het die minister van Handel, Parks Tau, se besluit veroordeel om Ithuba Holdings ‘n tydelike Nasionale Lotery-lisensie van 12 maande toe te staan. Hierdie stap volg op ‘n hofuitspraak wat so ‘n verlenging ongrondwetlik verklaar en dit tot vyf maande beperk. Tau het teen die besluite geappelleer en verwys na die openbare belang. Tebogo Sithathu van die Civic Society voer egter aan dat die minister se optrede die gesag van die reg ondermyn en ‘n kommerwekkende presedent skep:
# Die Parlement se voorsittende beamptes het skok uitgespreek en veroordeel die moord op die IVP-adjunkhoofsweep, Khethamabala Petros Sithole. Die 68-jarige Sithole wat sedert 2010 lid van die Nasionale Vergadering was, is Saterdagaand in Katlehong aan die Oos-Rand doodgeskiet. Die parlementêre woordvoerder, Moloto Mothapo, sê Sithole was ʼn ervare en beginselvaste staatsamptenaar wie se lewe gekenmerk is deur toegewyde diens aan die mense van Suid-Afrika:
# Volgens berigte is minstens 31 mense dood en meer as 100 beseer nadat Israelse magte gister die gebied naby die Gaza Humanitêre Stigting se sentrum aangeval het. Volgens die Palestynse Rooi Halfmaan-vereniging het skares mense by die perseel in Rafah saamgedrom om hulp te kry toe Israelse magte losgebrand het. Die Gaza-stigting wat deur Amerika en Israel ondersteun word, sê egter die bewerings is vals en hulp is sonder voorval versprei. Die Israelse weermag sê ʼn ondersoek toon sy magte het nie op Gaza-inwoners geskiet nie.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, is deur na die Franse Ope se kwarteindronde nadat hy die Amerikaner, Ben Shelton, geklop het. Die Spanjaard kom teen nog ʼn Amerikaner, Tommy Paul, te staan wat die Australiër, Alexei Popyrin, afgeransel het terwyl die Italianer, Lorenzo Musetti, met die Deen, Holger Rune, afgereken het. In die vroueafdeling het die verdedigende kampioen van Pole, Iga Swiatek, die laaste agt gehaal toe sy Elena Rybakina van Kazakstan geklop het. Die topgekeurde Aryna Sabalenka van Belarus het die Amerikaner, Amanda Anisimova, verslaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-436-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-306-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….