Nuus 07:00
BULLETIN 30 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party verwelkom ‘n Trump-raadgewer se verwerping van bewerings oor Afrikaner-volksmoord
# ‘n Voormalige DA-raadslid kry verskeie lewenslange vonnisse vir die moord op sy verloofde en kinders
# En rugby: Die Springbok Malcolm Marx en die All Black Richie Mo’unga se spanne is in ‘n tweestryd om die Japanese Rugby League One-titel
# Die GOOD-party verwelkom opmerkings deur die Amerikaanse president Donald Trump se geestelike raadgewer, Pastoor Mark Burns, wat bewerings van ‘n wit volksmoord in Suid-Afrika weerlê. Burns het tydens ‘n besoek aan die land gesê daar is geen bewyse van geteikende moorde op wit Suid-Afrikaners nie. Hy kritiseer diegene wat sulke bewerings versprei en noem hulle opportuniste. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die verklaring dien as ‘n tydige en eerlike ingryping wat kan help om diplomatieke betrekkinge tussen die twee nasies te verbeter:
# Die Streekhof in Ladysmith in KwaZulu-Natal het die voormalige DA-raadslid Michael Buthelezi tot vier keer lewenslank gevonnis plus 15-jaar tronkstraf vir die moord op sy verloofde en drie kinders in ‘n brandstigtingsvoorval in Bergville in 2023. Buthelezi is ook skuldig bevind aan die verskaffing van vals inligting aan die polisie. Die Nasionale Vervolgingsgesag se streekswoordvoerder, Natasha Ramkisson-Kara, sê Buthelezi het ‘n gewelddadige geskiedenis en het weke voor die brand gedreig om sy verloofde te vermoor:
# AfriForum is sterk gekant die Stad Tshwane se nuwe skoonmaakheffing en bestempel dit as dubbele belasting. Die munisipaliteit het ‘n maandelikse heffing van sowat 200-rand goedgekeur vir eiendomme wat nie hul vullisverwyderingsdiens gebruik nie. Die organisasie sê inwoners wat weens swak munisipale diens eerder privaat verwydering gekies het, word nou op ‘n onregverdige manier gestraf. Deidré Steffens van AfriForum voer aan die heffing is moontlik onwettig:
# Die vakbond COSATU het die aanstelling van die nuwe raad van die Werkloosheidsversekeringsfonds verwelkom. COSATU sê hulle is gereed om saam met die Minister van Arbeid, Nomakhosazana Meth, te werk om wanbestuur, korrupsie en verouderde stelsels reg te stel. Woordvoerder Matthew Parks sê die federasie sal druk uitoefen vir die modernisering van die fonds, uitgebreide dekking vir a-tipiese werkers en slimmer beleggings om werkskepping te ondersteun en die langtermyn volhoubaarheid van die fonds te verseker:
# Saoedi-Arabië gaan strenger optrede teen ongeregistreerde aanbidders tydens volgende week se hadj-pelgrimstog. Gereelde klopjagte, hommeltuigmonitering en ‘n stortvloed van tekswaarskuwings is daarop gemik om ongemagtigde besoekers in en om die heilige stad Mekka te keer. Die eenvoudige boodskap, “Geen hadj sonder ‘n permit nie”, word oor en oor herhaal in ‘n meedoënlose veldtog wat landwyd by winkelsentrums, op advertensieborde en oor mediaplatforms bevorder word. Verlede jaar het een-duisend-301 pelgrims, waarvan die meeste ongeregistreerd was gesterf het met temperature wat tot 51,8 grade Celsius gestyg het.
# En Rugby: Springbok-haker Malcolm Marx sal ‘n sleutel rol speel in Spears Tokyo Bay se soeke na kampioenskapglorie wanneer hulle môre teen All Black Richie Mo’unga se Brave Lupus in die Japanese Rugby League One-finaal te staan kom. Dit sal die eerste keer wees dat die twee vyande mekaar in ‘n beslissende wedstryd sal ontmoet sedert die 2023 Wêreldbeker-finaal wat die Springbokke met 12-11 gewen het. Die 30-jarige Springbok het ‘n indrukwekkende 27 drieë in 39 wedstryde gedruk sedert hy in Japan begin speel het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….