Nuus 07:00
BULLETIN 29 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die nuwe nasionale loterylisensie-operateur moes lankal aangekondig word
# Cosatu vra die Reserwebank om die terugkoopkoers te verlaag te midde van werkers se skuldkrisis
# ‘n VN-ondersoek sê Rusland het ‘misdade teen die mensdom’ gepleeg met hommeltuigaanvalle
# Die DA het die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, se aankondiging dat Sizekhaya Holdings aangewys is as die nuwe operateur van die Nasionale Lotery, verwelkom. Sizekhaya vervang Ithuba Holdings wat die Lotery sedert 2015 bestuur het. Die maatskappy het ‘n agtjaar-lisensie. Toby Chance van die DA sê die aankondiging moes lankal gedoen word:
Die EFF beskuldig die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau intussen van korrupte optrede in die toekenning van die lisensie aan Sizekhaya Holdings om die Nasionale Lotery en Sport-wedpoel te bedryf. Altesaam agt maatskappye het gebie om die multi-miljard-rand lisensie oor te neem. Die Goldrush-groep, ‘n filiaal van Goldrush Holdings wat op die JSE genoteer is, is ‘n 50-persent aandeelhouer in Sizekhaya. Die EFF se woordvoerder, Sinawo Thambo, sê die aanstelling is gedoen ondanks duidelike waarskuwings van ‘n belange-konflik, politieke blootstelling en agteraf-onderhandelings:
# Die vakbondfederasie Cosatu vra ‘n rentekoersverlaging van 50-basispunte terwyl die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee vandag vergader. Matthew Parks van Cosatu sê die ekonomie het verligting nodig met dalende inflasie en werkers wat deur skuld en stygende lewenskoste belas word. Die meeste werkers bly onder druk weens skuld, ondanks 44-miljard-rand wat deur pensioenhervormings beskikbaar geword het. Parks beklemtoon dat ‘n koersverlaging belangrike ondersteuning aan sukkelende huishoudings sal bied en sal help om die ekonomie weer aan die gang te kry:
# Die ANC-koukus in die Stad Ekurhuleni het GCR Ratings se bevestiging van die metro se kredietgradering, asook die hersiening van die vooruitsigte van negatief na stabiel verwelkom. Die verbeterde vooruitsigte word toegeskryf aan Ekurhuleni se bestendige bedryfsprestasie ten spyte van kapitaaluitgawe-beperkings. Die ANC sê dit dui op vertroue in die metro se fiskale trajek en sy pogings om finansiële dissipline en goeie bestuur te herstel.
# VN-deskundiges het bepaal Rusland se weermag het “misdade teen die mensdom” en “oorlogsmisdade” gepleeg met sy hommeltuigaanvalle op burgerlikes in Oekraïne se Cherson-streek. Die Onafhanklike Internasionale Kommissie van Ondersoek oor Oekraïne, wat deur die VN se Menseregteraad ingestel is, sê Russiese gewapende magte teiken burgerlikes stelselmatig. Rusland se hommeltuigaanvalle is in die kollig nadat Moskou van die swaarste missiel- en hommeltuigaanvalle tydens sy driejarige oorlog in Oekraïne uitgevoer het. Die Amerikaanse president Donald Trump het sy groeiende frustrasie met die Russiese president Vladimir Putin uitgespreek.
# Rugby: Die voormalige Walliese flank Alix Popham wil amptenare in die hof daag vir hulle aandeel in die kopbeserings wat hy en ander spelers opgedoen het. Honderde voormalige spelers voer ‘n regsgeding teen die owerhede omdat hulle na bewering nie voldoende beskerming teen herhaalde houe teen die kop gebied is nie. Die 45-jarige Popham, wat tussen 2003 en 2008, altesaam 33 toetse vir Wallis gespeel het, is vyf jaar gelede met die progressiewe breintoestand, CTE gediagnoseer. Hy sê die amptenare is deel van die rede vir die gemors waarin die spelers is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 24-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-59-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-264-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….