Nuus 07:00
BULLETIN 26 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA sê die verslapping van regulasies vir Starlink skep ‘n gevaarlike presedent
# Onderwysaktiviste sê ongedokumenteerde kinders van immigrante het die reg op onderwys
# En motorsport: Lando Norris wen die Monaco Grand Prix vir die eerste keer
# Build One South Africa het kommer uitgespreek oor die verslapte B-BBEE-lisensievereistes vir satellietdiensmaatskappye wat skielik in die Staatskoerant gepubliseer is. Die voorgestelde beleidsverandering maak dit makliker vir Elon Musk se Starlink om in die land bedryf te word. Dit bied sekere aansoekers ‘n manier om reëls te omseil om ʼn lisensie te kry om elektroniese kommunikasiedienste te verskaf of ʼn elektroniese kommunikasienetwerk te bedryf. BOSA-woordvoerder Roger Solomon sê dit skep ʼn gevaarlike presedent:
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het die Silapha-welstandsprogram gestaak. Die program was ʼn driejaar-projek wat kunstenaars en sportlui help om toegang tot hulpbronne te kry. Die diensverskaffer het ʼn tender van meer as 18-miljoen-rand oor drie jaar ontvang en die departement het hom maandeliks sowat 507-duisend-rand betaal. Die departement sê ná ernstige vrae oor waar en hoe die grootste deel van die geld bestee word, het die minister besluit dit kan elders beter aangewend word.
# Onderwysaktivis, Hendrick Makaneta, sê ongedokumenteerde kinders van immigrante in Suid-Afrika het die reg op onderwys. Hy sê begrotingstoekennings wat volgens geboortesertifikate gedoen word, het ‘n negatiewe invloed op die voeding van die kinders. Makaneta sê die Suid-Afrikaanse regering moet besin oor die breër kwessie van toegang tot skoolvoeding om te verseker dat elke geregistreerde kind voeding kry:
# ActionSA in Gauteng doen ‘n beroep op premier Panyaza Lesufi en die provinsiale LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Jacob Mamabolo, om die Emfuleni-munisipaliteit onder verpligte administrasie te plaas met volle toesig deur die Nasionale Tesourie. Zwelithini Mtshali van ActionSA sê ten spyte van jare se toesigmislukkings en onvolledige ingrypings kragtens Artikel 139, het Emfuleni in ‘n volskaalse krisis ontaard met 7,1-miljard-rand wat aan Eskom verskuldig is en toenemende skuld aan Rand Water wat die munisipaliteit finansieel insolvent gemaak het:
# Die Verenigde Nasies se Menseregte-moniteringsending in Oekraïne het die naweek se dodelike Russiese missiel- en hommeltuigaanvalle veroordeel. Minstens 12 mense waaronder drie kinders is dood in wydverspreide aanvalle in die Kiev-streek. Oekraïnse amptenare het bevestig daar was 298 Russiese hommeltuie en 69 missiele. Die VN sê die aanval beklemtoon die gevare wanneer kragtige wapens in bevolkte gebiede gebruik word. Hy sê dit verhoog die lewensverlies onder burgerlikes in die oorlog.
# Motorsport: McLaren-renjaer Lando Norris het stof in Charles Leclerc van Ferrari se oë geskop om sy eerste Monaco Grand Prix te wen. Die Brit het die nuwe twee verpligte band-ruilings vir die wedren hanteer om dit die eerste keer sedert die seisoen se eerste kompetisie in Australië te wen. Sy spanmaat Oscar Piastri is derde, Max Verstappen van Red Bull vierde en Lewis Hamilton van Ferrari vyfde. Norris, wat Piastri se voorsprong boaan die bestuurderskampioenskap met drie punte verminder het, sê dis belangrik om konsekwent te wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-80-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 24-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-581-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-348-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….