Nuus 07:00
BULLETIN 6 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Malatsi ontken onbehoorlike beïnvloeding in sy vergaderings met Starlink en ander maatskappye
# ‘n Tweede verdagte is in hegtenis geneem vir die diefstal van edelgesteentes ter waarde van 15-miljoen-rand
# En motorsport: Charles Leclerc wen die Britse Grand Prix
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, ontken sy ontmoeting met Starlink en ander globale satelliet-maatskappye het sy besluitneming beïnvloed. Dit volg nadat die gewese DA-leier, John Steenhuisen, beweer het Resolve Communications, wat aan voormalige DA-leier Tony Leon behoort, het sy verhouding met senior partyleiers gebruik om ontmoetings tussen DA-ministers en kliënte uit die privaat sektor te fasiliteer, insluitend Elon Musk se Starlink. Malatsi sê op geen van sy vergaderings met Starlink en ander satelliet-maatskappye is individuele lisensie-aansoeke bespreek nie, en sê die vergaderings was deel van sy werk.
Intussen ontken die voormalige DA-leier, Tony Leon, ook alle bewerings dat sy skakel-firma, Resolve Communications, enige onbehoorlike politieke invloed in die regering van nasionale eenheid het. Leon het tydens ‘n onderhoud met News24 verklaar dat hy persoonlik nie enige ontmoetings tussen Malatsi, en Starlink aangevra het nie. Hy sê sy maatskappy het wettig en deursigtig opgetree:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie sal van vandag af die tweede deel van die Nasionale Ondersoekverhoor na Suid-Afrika se Voedselstelsels byeenroep. Die eerste fase van die verhoor is in Maart gehou, waartydens die kommissie voorleggings van ‘n reeks belanghebbendes ontvang het. Die woordvoerder van die kommissie, Wisani Baloyi, sê die ondersoek is gegrond op Artikel 27 van die Grondwet, wat waarborg dat almal die reg het op toegang tot voldoende voedsel:
# Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat het ʼn tweede verdagte gearresteer in verband met die vermeende diefstal in 2023 van edelstene ter waarde van byna 15-miljoen-rand by ʼn huis Killarney, Johannesburg. Die eerste verdagte is Vrydag vasgetrek terwyl die tweede persoon homself by die Edenvale-polisiekantoor oorgegee het. OPOD-woordvoerder, Lizzy Suping, sê die verdagtes staan tereg op aanklagte van korrupsie weens hul beweerde onwettige optrede tydens die klopjag en beslaglegging op edelstene.
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê hy verskil van Amerika se visepresident, JD Vance, se opmerkings dat Amerika Israel se enigste bondgenoot in die wêreld is. Vance het Israel gekritiseer omdat hy weier om uit Libanon te onttrek. Israel gaan voort met aanvalle op die terroristegroep, Hisbolla, in die suide van Libanon. Dit kom ten spyte daarvan dat die staking van gevegte in Libanon een van die vereistes is van die memorandum van verstandhouding tussen Amerika en Iran. Netanyahu sê Israel het ook ander vriende, soos byvoorbeeld Indië.
# Motorsport: Ferrari-renjaer Charles Leclerc het sy eerste oorwinning van die seisoen behaal toe hy ʼn chaotiese Britse Grand Prix gewen het. Die kampioenskap-leier, Kimi Antonelli wat op koers was om te wen, het die sege misgeloop weens ʼn tegniese probleem met sy motor. Max Verstappen van Red Bull is uitgeskakel met vier rondtes oor. Antonelli se Mercedes-spanmaat, George Russell, was tweede en Leclerc se spanmaat, Lewis Hamilton, derde. Russell het Antonelli se titel-voorsprong tot 25 punte verminder terwyl Hamilton met sewe punte afgeskuif het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-55-sent teen die euro en 21-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-720-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-196-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….