Nuus 07:00
BULLETIN 9 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Blade Nzimande sê sy prestasierekord in die stryd teen korrupsie by NSFAS spreek vanself
# Duduzane Zuma stuur sy politieke party later die maand van stapel
# En, 401 Gold One-mynwerkers is afgedank ná ‘n onwettige ondergrondse staking
# Die minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande, sê hy beskou die Organisasie teen Belastingmisbruik se bewerings as roekeloos en grootliks gebaseer op skinderpraatjies. ‘n Verslag deur Outa bevat ʼn uitgelekte oudio-opname van ʼn beweerde ontmoeting tussen die minister, die raadsvoorsitter van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente en twee diensverskaffers. In die opname bespreek hulle na bewering gunslone, wanbestuur en politieke inmenging in die skema. Nzimande sê sy prestasie in die stryd teen korrupsie by NSFAS spreek vanself:
# Die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, herbevestig nogeens die gebrek aan fondse van die Nasionale Vervolgingsgesag wat benodig word vir die stryd teen korrupsie- en staatskapingsake. Ten spyte van ʼn verhoging van 5,39-persent in die mediumtermyn-begroting, beklemtoon Lamola dit is onvoldoende vir die land se omvangryke korrupsiesake. Hy het op ‘n vraag van die DA geantwoord dat die begroting in sy geheel ontoereikend is, met ʼn verhouding van 85 tot 15 ten opsigte van vergoeding tot bedryfskoste.
# Oud-president Jacob Zuma se seun, Duduzane, maak gereed om later die maand sy politieke party van stapel te stuur. Dié ontwikkeling volg op sy pa se onderskrywing van uMkhonto weSizwe ‘n paar weke gelede. Duduzane Zuma het aan Sunday World onthul sy verkiesingsplanne draai om die bevordering van inklusiwiteit en die skep van ‘n benadering vir grondliggende en strukturele verandering. Hy beklemtoon die belangrikheid dat die jeug hulle verskonings laat vaar, en noem aanspraakmaking ‘n verhinderingsproses. Die party se naam sal na verwagting binnekort bekendgemaak word.
# Gold One Mine het 401 mynwerkers afgedank wat verlede jaar deelgeneem het aan die onwettige ondergrondse staking by sy Modder-Oos-myn in Springs, oos van Johannesburg. ʼn Arbeidsgeskil oor organisatoriese regte by die myn het daartoe gelei dat meer as 500 werkers by ʼn skag ondergronds gebly het. Die Nasionale Unie van Mynwerkers het die voorval as ʼn gyselaarsdrama beskryf terwyl die Association of Mineworkers and Construction Union of AMCU gesê het dit was ʼn sitstaking om organisatoriese regte te eis. Ziyaad Hassam van Gold One-myn sê meer as 140 werknemers is steeds geskors.
# Die Arbeidersparty in die Verenigde Koninkryk sê hy is bekommerd omdat daar geen einde in sig is vir die ondraaglike lyding van Palestyne in Gaza en die Israelse gyselaars wat nog aangehou word nie. Meer as 30-duisend mense is dood sedert die oorlog tussen Israel en Hamas in Oktober verlede jaar begin het. Die Arbeiders se skaduminister van buitelandse sake, David Lammy, beskryf Israel se voortgesette taktieke in Gaza as vernietigend en sê ʼn volgehoue skietstilstand is dringend nodig:
# Rugby: Ierland se Australies-gebore vleuel, Mack Hansen, gaan die Sesnasies misloop nadat hy sy skouer op Nuwejaarsdag ontwrig het in Connacht se kragmeting met Munster in die Verenigde Rugbykampioenskap. Hy is gister geopereer en sal na verwagting tot vier maande lank buite aksie wees. Die 25-jarige het reeds 21 toetse vir Ierland gespeel en was verlede jaar in die opdrafspan in vier Wêreldbekerwedstryde in Frankryk. Ierland moet ook sonder die stut, David Kilcoyne, klaarkom, wat ʼn skouerbesering opgedoen het. Die Sesnasies begin die tweede van volgende maand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-57-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 46-duisend-677-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-36-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….