Nuus 07:00
BULLETIN 21 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Elon Musk kritiseer Suid-Afrika se wette oor swart eienaarskap
# AfriForum sê Tshwane belemmer sy veiligheidsplan vir substasies
# En die Wêreldgesondheidsorganisasie aanvaar die wêreldwye pandemieverdrag
# Die miljardêr Elon Musk het Suid-Afrika se wette oor swart ekonomiese bemagtiging gekritiseer. Hy sê die Starlink-internetdiens word nie in die land toegelaat nie omdat hy wit is. Om in Suid-Afrika gebruik te word, moet Starlink netwerk- en dienslisensies kry, wat albei 30-persent eienaarskap deur voorheen benadeelde groepe vereis. Die regering wil volgens berigte die SEB-wette omseil om Starlink in die land toe te laat. Musk het by die Katar Ekonomiese Forum gesê die wette is rassisties en onvanpas:
Die EFF veroordeel intussen berigte dat die regering regulatoriese sekerheid wil bied aan Elon Musk se Starlink, en sê dis ongrondwetlik. Die regering beplan volgens berigte om wette oor plaaslike swart eienaarskap te omseil sodat die Starlink-internetdiens in Suid-Afrika bedryf kan word. Die party sê hulle is nie teen tegnologie of globale vernuwing nie, maar gaan nie toelaat dat ongereguleerde, buitelandse infrastruktuur buite die land se demokratiese en wetgewende raamwerk bedryf word nie. Hy sê Starlink bedreig plaaslike nywerhede en nasionale veiligheid.
# Die minister van Minerale Hulpbronne en Petroleum, Gwede Mantashe, sê Suid-Afrika moet waarde put uit sy kritieke minerale om voordeel te trek uit globale verskuiwings in energie en tegnologie. Dit volg nadat die kabinet ‘n nuwe strategie goedgekeur het om die sektor te bevorder. Mantashe sê meer belegging word benodig in verkenning, plaaslike verwerking en infrastruktuur om die volle waarde van die minerale rykdom te ontsluit:
# AfriForum het die Stad Tshwane beskuldig dat hy die organisasie se plan om substasies in die metro te beveilig, verhinder. Talle gebiede in Centurion en Pretoria-Oos was gister sonder krag ná ‘n ontploffing by die Zwartkop-substasie. Verlede maand het ʼn transformator by die Waltloo-substasie aan die brand geraak. Arno Roodt van AfriForum sê verouderde infrastruktuur, swak bestuur, voortslepende kabeldiefstal en sabotasie van infrastruktuur is van die redes vir ontwrigtende brande by substasies.
# Lede van die Wêreldgesondheidsorganisasie het gister ‘n ooreenkoms aanvaar om voorbereiding vir moontlike toekomstige pandemies te verbeter na die onsamehangende wêreldwye reaksie op Covid-19. Na drie jaar van onderhandelinge is die wettige verdrag deur die Wêreldgesondheidsvergadering in Genève aangeneem. Die verdrag word beskou as ‘n oorwinning vir lede van die wêreldgesondheidsagentskap in ‘n tyd waar multilaterale organisasies soos die WGO onder druk geplaas word deur skerp besnoeiings in Amerikaanse buitelandse befondsing. Gesondheidskundiges het die verdrag verwelkom as ‘n stap in die rigting van groter billikheid in wêreldgesondheid.
# Krieket: Sam Cook sal sy debuut vir Engeland maak in hierdie week se toets teen Zimbabwe, terwyl mede-snelbouler Josh Tongue vir die eerste keer in twee jaar te sien sal wees. Cook se plek in die Engelse span by Trent Bridge op Donderdag is ‘n beloning vir ‘n tydperk as een van graafskapskrieket se mees bestendige paaltjienemers vir Essex. Die 27-jarige Cook se 227 Graafskap-kampioenskap-paaltjies is die meeste deur enige naatbouler die afgelope vyf jaar. Tongue is ingesluit in Engeland se nuwe boulaanval in sy eerste verskyning sedert die 2023 Reeks om die As.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-883-dollar-50-sent. Die prys van goud is drie-duisend-293-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….