Nuus 07:00
BULLETIN 19 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema sê president Ramaphosa sal sleg behandel word in die VSA
# Standard and Poor bevestig Suid-Afrika se kredietgradering met ‘n positiewe vooruitsig
# En tennis: Carlos Alcaraz klop Jannik Sinner om sy eerste Italiaanse Ope-titel in te palm
# EFF-leier Julius Malema sê president Cyril Ramaphosa gaan swak behandel word en nie die nodige respek ontvang op sy werksbesoek die week aan Amerika nie. Ramaphosa ontmoet president Donald Trump Woensdag wanneer hulle bilaterale, streeks- en globale sake van belang sal bespreek. Die besoek is ook daarop gemik om ‘n platform te bied om die strategiese verhouding tussen die twee lande te herstel. Malema sê Pretoria en Washington sal weens geopolitieke ideologieë nooit saam bestaan nie:
# Standard and Poor het Suid-Afrika se kredietgradering bevestig op sub-beleggingsgraad BB vir buitelandse valuta en BB vir plaaslike valuta. Kenners sê die vooruitsig bly positief en weerspieël hoop op ’n toekomstige opgradering indien hervormings volgehou word. Ten spyte van pogings tot fiskale konsolidasie, bly risiko’s soos stadige ekonomiese groei en stygende staatskuld, wat na verwagting gemiddeld 80-persent van die bruto binnelandse produk sal wees, steeds ’n uitdaging. Die kredietgraderingsagentskap voorspel ’n gemiddelde BBP-groei van 1,5-persent oor drie jaar, ondersteun deur hervormings soos Operasie Vulindlela.
# Die EFF lei vandag wat hy ʼn BTW-oorwinningsoptog noem na die Nasionale Tesourie in Pretoria. Die party sê hy vier die mense se oorwinning oor die voorgestelde BTW-verhoging teen die armes. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het verlede maand die BTW-verhoging geskrap wat in die nasionale begroting aangekondig is. Intussen ruk die studentevakbond, Sasco, vandag op na die Departement van Hoër Onderwys in Tshwane om te eis dat studente geld van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente ontvang.
# Die Forum for South Africa sê hulle is diep ontsteld oor die Nasionale Vervolgingsgesag se besluit om nie die verkragtingsaak van die 7-jarige Cwecwe (skuilnaam) te vervolg nie. Die groep hou die polisie se vertragings en besmette bewyse verantwoordelik en sê geregtigheid het misluk. Die leier van FOSA, Tebogo Mashilompane, benadruk dat die kind deur ’n dokter ondersoek is en dit is bevestig dat sy verkrag is. Hy sê FOSA eis antwoorde en waarsku dat openbare vertroue ondermyn word:
# President Volodymyr Zelensky van Oekraïne het pous Leo die 14de bedank vir sy ondersteuning aan die land en dat hy sy stem verhef vir ʼn regverdige en blywende vrede. Die nuwe Katolieke leier het Zelensky Sondag ná sy inhuldigingsmis privaat ontmoet. Die pous het verlede week die Vatikaan aangebied as moontlike ontmoetingsplek vir vredesonderhandelinge tussen Zelensky en die Russiese president, Vladimir Putin. Zelensky sê die stem en gesag van die pous kan ʼn belangrike rol speel om die oorlog te beëindig.
# Tennis: Die 22-jarige Carlos Alcaraz het die eerste Italiaanse Ope van sy loopbaan, en sy derde 2025-titel gewen. Die Spanjaard het die wêreld-nommer-een van Italië, Jannik Sinner, met 7-6, 6-1 afgeransel en spog met sy sewende ATP Meesters 1000-titel. Intussen het die Italianer, Jasmine Paolini, die Amerikaner, Coco Gauff, verslaan en die eerste vroue-enkelspelwenner in 40 jaar geword om die toernooi op haar tuisgrond te buit. Alcaraz sê dis altyd ʼn taai stryd wanneer hy en Sinner kragte meet:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-16-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-906-dollar-70-sent. Die prys van goud is drie-duisend-232-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….