Nuus 07:00
BULLETIN 17 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu waarsku teen besuinigingsmaatreëls voor die hersiene begroting
# Rusland en Oekraïne ontmoet vir hul eerste direkte samesprekings sedert 2022
# En rugby, die Stormers klop Cardiff en is deur na die uitspeelrondes van die Verenigde Rugbykampioenskap
# Cosatu doen ‘n beroep op die regering om ‘n kragtige en progressiewe begroting aan te bied wanneer hy volgende week die hersiene 2025/2026 nasionale begroting ter tafel lê. Cosatu sê werkers kan nie meer besuinigingsmaatreëls bekostig nie en dienste in die voorste linie het reeds verswak. Matthew Parks van die vakbond bepleit dringende belegging in Eskom, Transnet, openbare dienste, infrastruktuur en openbare werkskeppingsprogramme:
Die MK-party het intussen ‘n mosie van sensuur ingedien teen die minister van Finansies, Enoch Godongwana, en beskuldig hom van wanbestuur met die nasionale begroting. Die party voer aan die ongekende vertraging om die begroting deurgevoer te kry het sleuteldienste ontwrig en kwesbare gemeenskappe geraak, met vertragings in salarisse, toelaes en befondsing vir nie-regerings-organisasies. MK se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, kritiseer ook Godongwana se mislukte plan om BTW te verhoog, en noem dit onregverdig teenoor kwesbare mense:
# SANParke het twee brandweerwaens ontplooi om die Knysna Munisipaliteit in die Wes-Kaap te ondersteun tydens ‘n toenemende waterkrisis. Die voertuie is in die Tuinroete Nasionale Park gestasioneer en help tans met noodwaterverspreiding. SANParke werk saam met plaaslike owerhede om die druk op inwoners te verlig. JP Louw van SANParke sê hulle sal voortgaan om die situasie te monitor en sal verdere hulp verleen waar moontlik.
# Rusland en Oekraïne het vir die eerste keer in drie jaar direkte samesprekings gevoer waartydens ’n moontlike wapenstilstand bespreek is sonder ‘n duidelike deurbraak. ’n Oekraïnse bron het aan CNN gesê die Russiese afvaardiging eis dat Kyiv grondgebied onder sy beheer prysgee. Die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky en die Russiese president Vladimir Putin was albei afwesig. Die Duitse kanselier Friedrich Merz het belowe om nuwe sanksies teen Moskou in te stel na Putin se afwesigheid. Europese leiers plaas toenemende druk op die Russiese leier om ’n wapenstilstand van 30 dae te aanvaar.
# Rugbynuus is dat die Stormers hul plek in die uitspeelrondes van die Verenigde Rugbykampioenskap verseker het, nadat hulle Cardiff gisteraand in die Kaapstad-stadion met 34-24 geklop het. Die Stormers se punte is aangeteken deur vleuel Suleiman Hartzenberg wat in sy 50ste wedstryd twee drieë gedruk het, nog twee deur die senter Leolin Zas, en doelskoppe deur Damian Willemse en Sacha Feinberg-Mngomezulu, wat ook met ‘n strafskop geslaag het. Die rustydtelling was 19-12. Die Bulle pak vanmiddag die Dragons op Loftus, die Leeus speel teen Osprey in Johannesburg, met die Haaie wat vanaand in Durban teen die Scarlets te staan kom.
# En laastens krieket: Die Indiese Premierliga hervat vandag ná ’n weeklange uitstel, met nog 18 wedstryde oor in die seisoen. Royal Challengers Bengaluru, wat tans tweede op die punteleer is, verwelkom vandag die sesde-geplaasde Kolkata Knight Riders. In môre se dubbelwedstryd speel Rajasthan Royals teen Punjab Kings in Jaipur, en Delhi Capitals, versterk deur die Suid-Afrikaners Faf du Plessis en Tristan Stubbs, verwelkom Gujarat Titans. Die eindstryd is uitgestel na die derde van volgende maand, met die uitspeelrondes wat die 29ste van hierdie maand begin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….