Nuus 07:00
BULLETIN 16 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile doen ’n beroep op boere om in Suid-Afrika te bly
# OPOD ondersoek bewerings van seksuele aanranding teen ‘n polisiekollege-instrukteur
# En vyf Wes-Kaapse munisipaliteite skuld Eskom meer as 200-miljoen-rand
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering is daartoe verbind om saam met boere te werk om hul probleme aan te spreek. Hy het gister ‘n draai gemaak by die NAMPO-oesdag in die Vrystaat wat een van die grootste landbou-tentoonstellings is. President Cyril Ramaphosa het dit ook vroeër die week besoek waar hy gesê het Afrikaners wat na Amerika vertrek het, kies die lafhartige uitweg. Mashatile sê die boere wat hy by NAMPO ontmoet het, is nie van plan om die land te verlaat nie:
# Die Suid-Afrikaanse Kamer van Handel en Nywerheid het berigte verwelkom van ‘n komende ontmoeting tussen president Cyril Ramaphosa en sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump. Uitvoerende hoof Alan Mukoki vra Suid-Afrikaners van alle agtergronde om te verenig en verdeeldheid te vermy. Hy beklemtoon die belangrikheid van ’n positiewe beleggingsklimaat en herinner burgers aan Suid-Afrika se sterk grondwetlike demokrasie en Handves van Menseregte. Mukoki vra dat beweerde menseregteskendings deur wetstoepassers aangemeld moet word vir behoorlike ondersoek en regsoptrede.
# Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat ondersoek nog moontlike seksuele aanrandingsake teen ‘n instrukteur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Opleidingsakademie in Pretoria-Wes. Die beampte word beskuldig dat hy ‘n student verkrag het en haar na bewering gedreig het met dissiplinêre stappe. OPOD se woordvoerder Lizzy Suping sê die Pretoriase Landdroshof het die saak tot 23 Mei uitgestel vir verdere ondersoeke:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Finansies, Deidré Baartman, het onthul dat vyf munisipaliteite in die provinsie Eskom saam meer as 200-miljoen-rand skuld. Dit skuldiges is Matzikama, Cederberg, Theewaterskloof, Kannaland en Beaufort-Wes. Baartman sê die Nasionale Tesourie het bevestig dat vier van hierdie munisipaliteite voldoen aan die voorwaardes van die Munisipale Skuldverligtingsprogram. Sy sê dit beteken 93,1-miljoen-rand van hierdie skuld sal afgeskryf word. Baartman voeg by die provinsiale tesourie hou die nakoming van die program se voorwaardes maandeliks dop.
# Die Verenigde Koninkryk se eerste minister, Keir Starmer, sê hulle voer samesprekings met ander lande om terugkeersentrums op te rig vir asielsoekers wie se aansoeke afgekeur is. Die voorstelle is slegs van toepassing op mense wie se aansoeke afgekeur is en wat nie verder in die Verenigde Koninkryk kan appelleer nie. Sedert Januarie het 12-duisend mense die Engelse Kanaal oorgesteek wat 2025 ʼn rekordjaar kan maak. Starmer sê hy sien die terugkeersentrums as ʼn belangrike stelsel:
# Rugby: Die Springbok-staatmaker Manie Libbok keer terug van ’n lang besering en dra die Stormers se nommer tien-trui in hulle laaste Verenigde Rugbykampioenskaps-ligawedstryd Saterdag teen die Walliese span Cardiff in Kaapstad. Hy neem oor by sy jong nasionale spanmaat, Sacha Feinberg-Mngomezulu, wat op die bank begin. Damian Willemse skuif van senter na heelagter waar hy Warrick Gelant vervang, wat ‘n ruskans kry. Suleiman Hartzenberg en Leolin Zas is die vleuels, met Zas wat sy 50ste wedstryd vir die tuisspan speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-17-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-91-dollar-50-sent. Die prys van goud is drie-duisend-224-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….