Nuus 07:00
BULLETIN 15 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag gaan beslag lê op 32-miljoen-rand se bates in die asbes-saak
# MIV-infeksies styg as gevolg van die opskorting van Amerikaanse fondse
# En rugby: Holly Davidson is die eerste vroueskeidsregter by ‘n Europese eindstryd
# Die Hooggeregshof in Bloemfontein het die Nasionale Vervolgingsgesag se Batebeslagleggingseenheid opdrag gegee om beslag te lê op bates van die beskuldigdes in die asbeskorrupsiesaak wat met staatskaping verbind word. Die bates se waarde is 32-miloen-rand. Die NVG-woordvoerder, Mthunzi Mhaga, sê hulle glo die bates is bekom met die opbrengs van onwettige aktiwiteite soos diefstal, bedrog, korrupsie en geldwassery by die Vrystaatse Departement van Menslike Nedersettings. Hy sê die betrokke persone het 14 dae tyd om die bevel teen te staan of te aanvaar:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Petroleummaatskappy fokus op bestendigheid aangesien dit sy doelwit is om ‘n toonaangewende speler in die land se energiesektor te word. Die uitvoerende hoof, Godfrey Moagi, beklemtoon hoe belangrik dit is om bedrywighede te vereenvoudig om energiesekerheid te verbeter en ekonomiese groei te bevorder. Hy het aan SABC News beklemtoon die maatskappy beplan om nalatenskapbates aan te pak en bedrywighede te integreer om ‘n naatlose oorgang te verseker:
# ‘n Kliniese navorser van Wits-universiteit, Francois Venter, waarsku oor ‘n styging in MIV/Vigs-infeksies ná Amerika se onttrekking van die befondsing van die President se Noodplan vir Vigs. ’n Uitvoerende bevel van president Donald Trump het buitelandse hulp negatief geraak en MIV-gesondheidsorg in Suid-Afrika lam gelê. Venter benadruk daar is ’n 20-persent afname in die MIV-toetsing van babas, en waarsku oor toenemende infeksies en voorkombare sterftes as daar nie dringend opgetree word nie. Hy doen ‘n beroep op die Departement van Gesondheid om die MIV-program onmiddellik weer in te stel en te stabiliseer.
# Gautengse polisie het ‘n dossier geopen nadat die liggaam van ʼn elfjarige seun in Fleurhof, wes van Johannesburg gevind is. Jayden Lee Meek is Dinsdagmiddag as vermis aangemeld nadat sy skoolvervoer hom by sy woonkompleks afgelaai het. ʼn Polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, sê die seun se liggaam is gisteroggend op ʼn trap in die Swazi’s Place-kompleks in die gebied gevind:
# President Donald Trump van Amerika het ʼn reeks ooreenkomste met Katar onderteken, insluitend een waar dié land 160 straalvliegtuie van die Amerikaanse vliegtuigvervaardiger, Boeing, sal koop. Trump het Katar gister besoek op die tweede deel van sy vierdaagse toer in die Midde-Ooste. Katar het ʼn belangrike rolspeler geword in Amerikaanse diplomatieke pogings in die Midde-Ooste. Die land is ook ʼn belangrike bemiddelaar in onderhandelings tussen Amerika en Hamas. Daar is ook ʼn verklaring van voorneme oor samewerking op verdedigingsgebied tussen Amerika en Katar onderteken.
# Rugby: Holly Davidson sal die eerste vroulike skeidsregter en die eerste Skot sedert Jim Fleming in 1998 wees om ’n Europese eindstryd te hanteer na haar aanstelling vir volgende Vrydag se Uitdaagbeker-kragmeting tussen Bath en Lyon in Cardiff, Wallis. Sy was die eerste vrou wat skeidsregter was van ‘n Springbokwedstryd toe die Bokke verlede jaar in Bloemfontein teen Portugal gespeel het en sal weer in Julie die rol vervul in die toets tussen Suid-Afrika en Italië. Davidson was ook skeidsregter in die laaste twee Sesnasies-toernooie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-463-dollar-70-sent. Die prys van goud is drie-duisend-185-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….