Nuus 07:00
BULLETIN 14 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die vertrek van die Afrikaners na die VSA is ‘n lafhartige daad
# Die MK-party sê die stygende werkloosheid bewys die regering van nasionale eenheid het misluk
# En die Departement van Vervoer bevestig verlengde werksure om die agterstand in rybewyse aan te spreek
# President Cyril Ramaphosa sê die groep van 49 wit Afrikaners wat na Amerika vertrek het, is volgens hom ongelukkig met pogings om die verlede se ongelykhede aan te spreek. President Donald Trump het hulle vlugtelingstatus toegeken as slagoffers van wat hy ‘n volksmoord noem. Die president het gister ʼn verrassingsbesoek gebring aan die jaarlikse Nampo-oesdag naby Bothaville in die Vrystaat. Ramaphosa sê Suid-Afrikaners is veerkragtig en hardloop nie weg van hul probleme nie:
# Die MK-party sê die toename in werkloosheid is ’n duidelike teken van ’n nasionale krisis wat veroorsaak is deur ’n mislukte regering van nasionale eenheid. In reaksie op die jongste kwartaallikse arbeidsmagopname voer die party aan dat swart jeug, vroue en mense met gestremdhede uitgesluit word deur ’n ekonomie wat steeds gevorm word deur bevoorregting uit die apartheidsera. Nhlamulo Ndhlela van die MK-party beskuldig president Cyril Ramaphosa se regering daarvan dat dit die belange van die elite dien, en noem sy beleggingsberade, leë beloftes:
Intussen sê Build One South Africa die regering kan nie die land se trae, ongelyke ekonomie en hoë werkloosheidsyfer takel nie. Die kwartaallikse arbeidsmag-opname vir die eerste kwartaal toon die aantal werkende mense in die formele sektor het met 245-duisend afgeneem terwyl dié in die informele sektor met 17-duisend toegeneem het. BOSA sê staatsdepartemente en ministers beloof al te lank werkskepping terwyl hulle aan die hoof staan van ʼn ekonomie wat nie groei nie en ʼn arbeidsmark wat nie geleenthede het vir toetreders nie.
# Die Departement van Vervoer het bevestig dat verlengde werksure by die Bestuurslisensiekaart-agentskap ingestel sal word om ‘n agterstand van meer as 740-duisend ongedrukte rybewyskaarte aan te spreek. Dit volg op die herstel van die agentskap se drukker, wat sedert Februarie buite werking is. ‘n Woordvoerder van die departement, Collen Msibi, sê pogings om nuwe masjiene aan te koop, is vertraag weens onreëlmatighede wat deur die Ouditeur-Generaal geïdentifiseer is. Hy sê die departement soek uitsluitsel van die hof of hulle met die huidige diensverskaffer moet voortgaan.
# President Donald Trump sê die verhouding tussen Amerika en Saoedi-Arabië is ʼn basis van sekuriteit en voorspoed. Hy het gister begin met die eerste deel van ʼn vierdaagse diplomatieke toer na Saoedi-Arabië, Katar en die Verenigde Arabiese Emirate. Trump het talle ooreenkomste met Saoedi-Arabië se regering onderteken, wat militêre samewerking insluit. Hy het in Riaad tydens ʼn beleggingsforum tussen dié twee lande Iran beskuldig dat hy die streek vernietig en bloedvergieting in ander lande befonds:
# Rugby: Die Internasionale Rugbyspelersvereniging sê hy is nie geraadpleeg voor Wêreldrugby die Wêreld-Sewesreeks hersien het nie. Die beheerliggaam het die aankondiging gedoen net voor die laaste toernooi van die seisoen in Los Angeles, Amerika, wat Suid-Afrika gewen het. Ingevolge die nuwe formaat bestaan die reeks slegs uit agt elite-spanne wat aan ses toernooie deelneem. Daarna sluit vier spanne van die pas gestigte Afdeling Twee by hulle aan vir drie toernooie in ‘n Wêreldkampioenskapsreeks. Spelers voel dit sal slegs die ryker nasies bevoordeel en nie opkomende lande help ontwikkel nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 24-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-893-dollar-89-sent. Die prys van goud is drie-duisend-245-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….