Nuus 07:00
BULLETIN 12 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Groep Afrikaner-vlugtelinge het die land verlaat op pad na die VSA
# Pastoor Omotoso sal vandag in die hof verskyn op immigrasie-aanklagte
# En pous Leo doen in sy eerste Sondagpreek ‘n beroep op die staking van oorloë
# ‘n Groep van 49 Afrikaners wat vlugtelingstatus in Amerika ontvang het, het Suid-Afrika gisteraand verlaat. Hulle het op ʼn privaat huurvlug van OR Tambo Internasionale Lughawe vertrek. President Donald Trump van Amerika het in Februarie Afrikaners in ʼn uitvoerende bevel beskryf as slagoffers van rassediskriminasie. Die groep sal na verwagting vandag by die Washington Dulles Internasionale Lughawe in Virginië deur staatsamptenare verwelkom word. ʼn Woordvoerder van die Departement van Vervoer, Collen Msibi, het aan Newzroom Afrika gesê alle passasiers is gekeur:
# Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party en die Kongres van Tradisionele Leiers van Suid-Afrika sê hulle gaan voort om met mekaar te onderhandel oor hul besluit om aan die plaaslike regeringsverkiesing van 2026 deel te neem. Die SAKP se woordvoerder, Mbulelo Mandlana, sê die grondkwessie is die afgelope 30 jaar ongelukkig afgeskeep in staatsprogramme wat bedoel is om nasionale transformasie te bevorder. Hy sê die grondkwessie moet nou sentraal staan in die gemeenskaplike politieke program:
# Die omstrede Nigeriese tele-evangelis, Timothy Omotoso, verskyn na verwagting vandag in Oos-Londen in die hof op aanklagte dat hy die Immigrasiewet oortree het. Omotoso, wat in April vrygespreek is op 32 aanklagte van verkragting, mensehandel en afpersing, is die naweek in hegtenis geneem. Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, het hom ʼn verbode persoon in Suid-Afrika verklaar. Christians of South Africa, Omotoso se ondersteuners, sê hulle glo nie sy inhegtenisname was weens immigrasieredes nie, maar om sy profetiese stem stil te maak.
# Die DA in Gauteng sê teaters en kraameenhede by die Carletonville-hospitaal is gesluit weens die waterkrisis wat pasiënte se lewens in gevaar stel. Die situasie is ontdek tydens ‘n toesigbesoek aan die hospitaal vroeër hierdie week deur die Gautengse Portefeuljekomitee vir Gesondheid en Welstand. Die DA-lid, Madeleine Hicklin, sê hierdie krisis volg nadat die Merafong Plaaslike Munisipaliteit se watervoorsiening met 20-persent gesny is weens ‘n onbetaalde rekening van 1,6-miljard-rand wat aan Rand Water verskuldig is:
# Pous Leo die 14de vra dat die wêreld se oorloë beëindig word. Hy het tydens sy eerste Sondag-diens by die Vatikaan ʼn beroep gedoen op ware, regverdige en blywende vrede in Oekraïne. Pous Leo het gevra vir ʼn skietstilstand in die Israel-Hamas-oorlog en gesê humanitêre hulp moet aan die burgerlike bevolking voorsien en alle gyselaars moet vrygelaat word. Hy het ook die skietstilstand tussen Indië en Pakistan verwelkom. Pous Leo word Sondag amptelik ingehuldig tydens ʼn mis op die Sint Petrusplein.
# Rugby: Die Leeus het met 32-19 teen Wallis se Scarlets verloor in hul Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd op Ellispark in Johannesburg. Die besoekers het vier drieë gedruk teenoor die gashere se drie en ʼn bonuspunt-oorwinning behaal om hul hoop op die uitspeelronde lewend te hou. Die Leeus se hoop om die uitklopronde te haal, is voor afskoptyd verpletter. Dit volg ná die Italiaanse klub, Benetton, se bonuspunt-sege van 33-7 teen die verdedigende kampioene, Glasgow Warriors, wat Saterdag hul uitspeel-kans versterk het. Daar bly net een ronde van die gewone seisoen oor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-203-dollar-59-sent. Die prys van goud is drie-duisend-263-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….