Nuus 07:00
BULLETIN 10 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Regering sê die hervestiging van Suid-Afrikaners in Amerika is geheel polities gemotiveerd
# AfriForum beloof om die ANC-beleid teen te staan ondanks die voortgesette hoogverraad-ondersoek
# En, Donald Trump dui aan dat tariewe teen China tot 80% beperk kan word
# Die ministerie van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê die hervestiging van Suid-Afrikaners in Amerika onder die dekmantel van vlugtelingskap is geheel en al polities gemotiveerd. Amerika het die aansoeke van sogenaamde vlugtelinge uit Suid-Afrika begin verwerk en sal dié Suid-Afrikaners daar begin hervestig. Die ministerie se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê dit is nie duidelik hoe die beginsel van vrywaring van deportasie op hulle toegepas sal word sodra hulle daar hervestig is nie:
# AfriForum het intussen die Valke se voortgesette ondersoek na beweerde hoogverraad verwerp as ‘n poging om diegene wat die ANC teenstaan, te intimideer en stil te maak. Die ondersoek volg op klagtes wat verlede jaar gelê is weens AfriForum en Solidariteit se buitelandse ontmoetings. Hulle beloof om steeds die ANC se beleid en menseregte-vergrype teen te staan. Kallie Kriel van AfriForum sê om saam te werk met internasionale leiers soos die Amerikaanse president, Donald Trump, is nie hoogverraad nie maar hulle demokratiese reg:
# Die voormalige minister van Verdediging en speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het ‘n nuwe regspan in haar korrupsiesaak aangestel. Sy het gister in die Hooggeregshof in Pretoria verskyn waar haar voormalige prokureur, Reginald Willis, van die saak onttrek het. Mapisa-Nqakula word daarvan beskuldig dat sy na bewering tussen 2016 en 2019 omkoopgeld ter waarde van meer as twee-miljoen-rand van die sakevrou, Nombasa Ntsondwa-Ndhlovu, ontvang het. Die saak is tot 20 Junie uitgestel en sy is intussen steeds uit op borgtog van 50-duisend-rand.
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het aangedui dat hy moontlik invoertariewe op Chinese goedere kan verlaag. Die twee supermoondhede berei voor vir handelsonderhandelinge oor die naweek. Trump het op sy Truth Social-platform geskryf dat 80-persent reg klink. Dit sou die tariewe van 145-persent verminder, met heffings op sekere produkte wat tans ’n verstommende 245-persent bereik. Trump sê dis in die hande van sy minister van Finansies, Scott Bessent. Hy gaan in Genève beraadslaag met China se vise-premier, He Lifeng, om die konflik te probeer afkoel wat internasionale markte ontstig het.
# En ten slotte krieket: Spelers en ondersteuningpersoneel het begin om Indië te verlaat ná gister se aankondiging dat die Indiese Premierliga vir ’n week opgeskort is. Dis gedoen terwyl die konflik vererger op die grens met Pakistan. Indië se beheerliggaam, die BCCI, sê alle belanghebbendes het eenparig saamgestem dis nie gepas om die IPL onder die huidige omstandighede voort te sit nie. Die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging, Andrew Breetzke, sê ook hulle kommunikeer regstreeks met die Suid-Afrikaanse spelers in die IPL en het hulle al die nodige ondersteuning aangebied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….