Nuus 07:00
BULLETIN 7 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika het by die Internasionale Geregshof ‘n belangrike stap teen Israel gedoen
# Die MK Party-lid en geldskenker Vusi Motha sê hy het 400-duisend-rand uitgegee op die Mpumalanga-geleentheid
# En, ‘n vrou in haar 90’s word uit die puin gered vyf dae ná die aardbewing in Japan
# Die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika het by die Internasionale Geregshof ‘n belangrike stap teen Israel gedoen om die volksmoord wat volgens hom tans in Gaza voorkom, te stop. Lamola het by ʼn kerkdiens in Mbombela, Mpumalanga, gepraat as deel van die ANC-program in aanloop tot die 8 Januarie-verklaring wat eerskomende Saterdag by die Mbombela-stadion plaasvind. Hy sê dis belangrik om nou op te tree:
Intussen sê ’n voormalige aanklaer van die Internasionale Geregshof, Phakiso Mochochoko, Suid-Afrika onderskryf en aanvaar internasionale strafreg in Den Haag oor die volksmoord in Gaza. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het aangekondig dat hy voormalige adjunkhoofregter Dikgang Moseneke genader het om as ‘n ad hoc-lid by die regbank van 15 permanente regters aan te sluit. Suid-Afrika het dade van die Israelse Weermag as volksmoord gedefinieer. Die saak word die week Donderdag en Vrydag in Den Haag aangehoor. Mochochoko het aan SABC NUUS gesê Suid-Afrika wil hê die oppergesag van die reg moet gerespekteer word:
# Die gewese burgemeester van Mkhondo, wat die finansiële krag agter die grootste byeenkoms van die uMkhonto weSizwe Party-ondersteuners was, sê die geleentheid in Mpumalanga het hom sowat 400-duisend-rand gekos. Vusi Motha is ʼn jaar gelede in hegtenis geneem vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen. Die ANC het hom in 2021 uitgeskop en ná ʼn kort tydjie as EFF-lid, het hy by die MK Party aangesluit. Motha glo MK bied ʼn tuiste vir dié wat verkeerd verstaan word in die ANC. Nog MK-saamtrekke word verwag, en die volgende een is Sondag in KwaZulu-Natal.
# RCL Foods het ‘n aansoek teruggetrek om een van Tongaat Hulett se reddingsplanne te verbied, nadat hy met die maatskappy se sakereddingspraktisyns geskakel het. Selati Sugar het ‘n plan ter tafel gelê wat sou sien dat geld wat aan die SA Suikervereniging verskuldig is, eers in ‘n trustrekening inbetaal word nadat ‘n reddingsplan geïmplementeer is. RCL het Sondag gesê daar is steeds kommer, hoewel die wettigheid van die plan nou bevestig is. Gewysigde planne vir die maatskappy is verlede week uitgereik, met 10 Januarie bepaal as datum vir ‘n stemming oor die wysigings en oor moontlike nuwe eienaarskap.
# ʼn Bejaarde vrou in haar 90’s is meer as vyf dae ná ʼn kragtige aardbewing in Japan uit die puin van ʼn tweeverdiepinggebou gered. Reddingswerkers het die vrou Saterdagaand, 124 uur ná die aardbewing, in Suzu-stad in die Ishikawa-prefektuur gekry en na die naaste hospitaal geneem. ʼn Dokter het aan verslaggewers gesê sy kan gesprekke voer, maar haar bene is beseer. Die aardbewing van 7,5 wat die land op Nuwejaarsdag getref het, het tsunami-waarskuwings so ver as die ooste van Rusland genoodsaak. Minstens 126 mense is in die ramp dood.
# Tennis: Die 22-malige Grand Slam-kampioen, Rafael Nadal, het aan die Australiese Ope onttrek. Die Spanjaard se terugkeer is op ys nadat hy in Brisbane ʼn mikro-skeur aan ʼn spier opgedoen in sy kwarteindwedstryd teen die Australiër, Jordan Thompson. Nadal het Sondag op sosiale media aangekondig hy het in Melbourne ʼn MRI-skandering ondergaan wat die geskeurde spier gewys het en hy keer terug Spanje toe. Die besering kom skaars ʼn week nadat hy na ʼn jaar lange afwesigheid na die baan terugkeer het. Hy moes ná die Australiese Ope in 2023 ʼn heupoperasie ondergaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-630-dollar-61-sent. Die prys van goud is twee-duisend-42-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….