Nuus 07:00
BULLETIN 7 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Schreiber verwelkom die Konstitusionele Hof se uitspraak oor burgerskap
# Die Kanadese premier Mark Carney sê sy land sal nooit te koop wees nie
# En rugby: Australië verslaan die Junior Bokke in die Onder-20-kampioenskap
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, verwelkom die Konstitusionele Hof se beslissing oor die Wet op Suid-Afrikaanse Burgerskap van 1995, betreffende die verlies aan burgerskap. Die hof het verklaar dat ‘n gedeelte van die wet wat bepaal dat Suid-Afrikaners hulle burgerskap verloor as hulle vrywilliglik die nasionaliteit van ‘n ander land verkry, ongrondwetlik is. Schreiber sê sy departement sal nie slegs dié beslissing nakom nie, maar het onmiddellik daaraan begin werk om indiwidue wat geraak word, se burgerskap te herstel:
# Die Minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, lei ‘n afvaardiging in Denemarke vir die Kopenhagen Ministeriële Klimaatsvergadering, wat vandag plaasvind. Die twee-dag wêreldvergadering sal belangrike klimaatsbeleid bepaal in die aanloop to COP30 in Brasilië. Die minister is van plan om sterker vennootskappe, duidelike befondsingspaaie en optrede oor klimaatsaanpassing te verseker. Sy departement sê die afvaardiging sal voorspraak maak vir klimaatsgeregtigheid, werkskepping en die beskerming van biodiversiteit en gemeenskappe, wat deur omgewingsbedreigings geraak word.
# Die LUR vir Gesondheid in Gauteng, Nomantu Nkomo-Ralehoko, sal vandag die Carletonville-hospitaal besoek om voormalige mynwerkers se mediese evaluerings waar te neem. Dit vorm deel van die Uitreikprogram vir Voormalige Mynwerkers en is daarop gemik om hul geskiktheid te bepaal vir vergoeding wat verband hou met beroepsiektes soos silikose en TB. Die Gautengse Gesondheidsdepartement en die Mediese Buro vir Beroepsiektes lei die projek wat sal poog om ondersteuning aan voormalige mynwerkers te bied en hul waardigheid te herstel.
# Die DA in KwaZulu-Natal verhoog sy druk op die Nasionale Vervolgingsgesag en die KwaZulu-Natalse Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake oor die voortdurende rioolkrisis op die strande in eThekwini. Die DA-lid, Hannah Lidgett, sê verskeie Durbanse strande is gesluit weens gevaarlike E.coli-vlakke, maar geen amptenare word aanspreeklik gehou nie. Sy eis daaglikse watertoetse, dringende ingrypings en vinnige vervolging om openbare gesondheid en die stad se toerisme-ekonomie te beskerm:
# Die Kanadese premier Mark Carney sê sy land is nie te koop nie. Dit volg op die Amerikaanse president Donald Trump se opmerking dat hy belangstel om Kanada die 51ste staat van Amerika te maak. Die twee leiers het Dinsdag in die Withuis vergader. Trump se voortdurende handelsoorlog en dreigemente teen Kanada se soewereiniteit het ‘n groot rol gespeel in die nasionale verkiesing wat Carney se Liberale Party verlede maand tot oorwinning gedryf het. Carney sê daar is ‘n geleentheid vir ‘n sterk vennootskap tussen die twee lande:
# Rugby: Australië het teruggeveg om Suid-Afrika met 29-24 in die tweede ronde van die Onder-20-Rugbykampioenskap in Gqeberha te klop. Die Junior-Bokke was teen rustyd met 17-0 voor toe Australië drie verdoelde drieë aangeteken het. ‘n Strafskop vir die Aussies het hulle met 29-17 laat voorloop, en Suid-Afrika het teruggeslaan met ‘n drie en doelskop deur die flank Batho Hlekani, maar die tyd het hulle toe ingehaal. In die ander wedstryd het Nieu-Seeland vir Argentinië met 75-21 kafgedraf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 20-rand-61-sent teen die euro en 24-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-518-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-375-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….