Nuus 07:00
BULLETIN 6 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Meth sê die regsgeding teen die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming bedreig vooruitgang
# Minister Ramokgopa sê Suid-Afrika het nie ‘n steenkoolprobleem nie
# En die Withuis sê geen finale besluit is geneem oor die nuwe filmtariewe nie
# Die Minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, het die DA se regsaak teen wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming gekritiseer en dit as ’n aanval op transformasie beskryf. Meth het die DA daarvan beskuldig dat hulle probeer om ongelykhede uit die apartheidsera te handhaaf en die vordering sedert 1994 om billikheid in die werkplek te bevorder, te verhinder. ‘n Woordvoerder van die departement, Thobeka Magcai, sê die wysigings is daarop gemik om billike verteenwoordiging oor alle werkvlakke heen, met buigsame diversiteitsteikens te verseker en nie met vaste kwotas nie:
Die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika ondersteun intussen die DA se hofsaak. Die wet bemagtig die minister van Indiensneming en Arbeid om numeriese teikens te stel vir billike verteenwoordiging van toepaslik gekwalifiseerde individue uit aangewese groepe op alle beroepsvlakke. Die DA wil hê die wet moet ongrondwetlik verklaar word. Die vereniging se uitvoerende hoof, Gerhard Papenfus, het aan Newzroom Afrika gesê die regering moet wegbly van sakeondernemings:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa daag die opvatting uit dat Suid-Afrika se afhanklikheid van steenkool nie strook met sy klimaatsverbintenisse nie. Hoewel steenkool verantwoordelik is vir die opwekking van meer as 80-persent van die land se elektrisiteit, is die regering verbind om na skoner alternatiewe energiebronne soos son- en windkrag oor te skakel. Ramokgopa sê met die regte tegnologie kan steenkool steeds tot die land se energiemengsel bydra:
# President Cyril Ramaphosa het ‘n proklamasie onderteken wat die Spesiale Ondersoekeenheid magtig om bewerings van wanadministrasie in die Mbombela-munisipaliteit in Mpumalanga te ondersoek. Die ondersoek hou verband met sewe tenders wat die sake van die munisipaliteit raak. Die SOE sê hy moet bepaal of die verkryging en kontraktering op ‘n wyse gedoen is wat billik, mededingend en deursigtig is. Die ondersoek sal ook kyk na enige onreëlmatige, onwettige of onbehoorlike gedrag deur amptenare of werknemers van die munisipaliteit, en sy verskaffers van goedere of dienste.
# Die Withuis sê geen finale besluit is nog geneem oor die heffing van nuwe tariewe op rolprente wat buite die VSA vervaardig word nie. President Donald Trump het op Truth Social aangekondig dat hy sy administrasie opdrag gegee het om onmiddellik ‘n 100-persent heffing op buitelandsvervaardigde rolprente in te stel. Die Withuis sê hoewel geen finale besluit oor die saak geneem is nie, ondersoek die administrasie alle moontlikhede om te doen wat Trump beveel het ten einde die land se nasionale en ekonomiese sekerheid te beveilig.
# Tennis: Die groot mededingers Jannik Sinner en Carlos Alcaraz kan mekaar eers ontmoet in die eindstryd van die Italiaanse Ope wat Vrydag in die hoofstad, Rome, begin. Die plaaslike held, Sinner, het sy posisie boaan die wêreldranglys behou toe hy Sondag teruggekeer het ná ’n skorsing van drie-maande. Die Spanjaard is derde gekeur na die Duitser Alexander Zverev. Daar is egter steeds onsekerheid oor Alcaraz se fiksheid ná sy onttrekking aan die Madridse Meesterstoernooi. Albei het ‘n loslootjie in die eerste ronde en sal eers in die tweede ronde speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-29-sent teen die dollar, 20-rand-65-sent teen die euro en 24-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-426-dollar-30-sent. Die prys van goud is drie-duisend-358-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….