Nuus 07:00
BULLETIN 30 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê Afrika kan sy ontwikkeling bespoedig
# Die NUM is gereed vir loononderhandelinge met Sibanye Stillwater
# En die Withuis kritiseer Amazon se plan om die tariefkoste op produkte te lys
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê Suid-Afrika wil werkskepping, die bevordering van geslagsbeleid, en billike toegang tot geleenthede die middelpunt van die G20-dialoog maak. Hy het Dinsdag in Pretoria ‘n hoofrede gelewer by die T20 Afrika-hoëvlakbeleidsdialoog. Mashatile sê Afrika moet die voortslepende uitdagings van ekonomiese ontwikkeling, politieke onbestendigheid en swak regering aanspreek. Hy sê Afrika kan ontwikkeling versnel deur digitalisering, kunsmatige intelligensie en nuwe tegnologieë:
# Die Sitruskwekersvereniging sê die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf verwag om 171-miljoen kartonne hierdie seisoen uit te voer, ‘n toename van 3,6-persent in vergelyking met verlede jaar. Die vereniging se uitvoerende hoof, Boitshoko Ntshabele, sê die suurlemoen- en pomelo-uitvoere het goed begin. Ntshabele waarsku dat onsekerheid oor Amerikaanse tariewe ’n groot bedreiging vir die sektor bly, asook ondoeltreffende hawens en struikelblokke vir handel. Die bedryf voorsien dat 100-duisend werksgeleenthede teen 2032 geskep kan word indien marktoegang verbeter.
# Die Nasionale Unie van Mynwerkers sê hy berei voor om in Mei met loononderhandelings by Sibanye Stillwater te begin. Die maatskappy het in November verlede jaar ʼn eenjaar-loonooreenkoms met vakbonde by sy goudbedrywighede bereik, wat ʼn verhoging van 5,5-persent insluit. Hierdie ooreenkoms verstryk op 30 Junie vanjaar. NUM sê die feit dat die mynbedryf, en veral die goudsektor, ʼn opwaartse neiging in die goudprys toon, gee hom ʼn mededingende voordeel in die onderhandelinge.
# Staatsaanklaer Zelda Swanepoel het die Joslin Smith-verhoor as die eerste van sy soort in Suid-Afrika beskryf. In haar slotbetoë het sy aan die Wes-Kaapse Hooggeregshof gesê dat Joslin se verdwyning die saak bemoeilik. Joslin se ma en twee ander staan tereg op aanklagte van mensehandel. Swanepoel beweer die kind is vir muti verkoop, en dat die beskuldigdes geen poging aangewend het om haar te vind nie, omdat hulle geweet het sy sou nooit terugkom nie:
# Die Withuis het Amazon se plan om die koste van president Donald Trump se tariewe op produkte te plaas wat die e-handelsreus verkoop, gekritiseer. Trump het ʼn tarief van 145-persent gehef op ingevoerde produkte uit China, waar baie produkte op Amazon.com vandaan kom. Amazon ontken betrokkenheid by die berig en sê die idee is oorweeg, maar afgekeur. Die Withuis se perssekretaris, Karoline Leavitt, sê dis ʼn vyandige en politieke aksie van Amazon:
# Rugby: ʼn Onafhanklike paneel het ʼn wangedragbevinding teen die Westelike Provinsie Rugbyvoetbalunie se oudpresident, Zelt Marais, gehandhaaf. Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het Marais in 2024 vir 10 jaar geskors nadat hy op agt aanklagte van wangedrag weens verbreking van die SARU-gedragskode skuldig bevind is. Die paneel het bevind die straf wat die regsbeampte opgelê het, was goed gemotiveerd en het Marais se totale gebrek aan berou in ag geneem. Marais mag tot Oktober 2034 geen amp in rugby beklee nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-57-sent teen die dollar, 21-rand-14-sent teen die euro en 24-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-425-dollar-41-sent. Die prys van goud is drie-duisend-311-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….