Nuus 07:00
BULLETIN 25 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP sê die DA kan nie in die regering wees en terselfdertyd sy besluite teenstaan nie
# Die Forum for SA sê president Ramaphosa moet die minister van Finansies afdank
# En wêreldleiers beskuldig Putin dat hy nie vrede wil maak nie
# Die IVP sê die DA kan nie in die regering van nasionale eenheid wees en die besluite wat dieselfde regering neem, teenstaan nie. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het die voorgestelde BTW-verhoging van 0,5-persentasiepunte geskrap ná uitgebreide beraadslaging met politieke partye en deeglike oorweging van parlementêre komitees se aanbevelings. Die IVP se nasionale woordvoerder, Mkhuleko Hlengwa, sê die land se ekonomie is ‘n haglike toestand en baie meer is nodig om dinge om te keer:
Die Forum for South Africa versoek intussen president Cyril Ramaphosa om die minister te verwyder en beskryf hom as onbevoeg en sielsmoeg. Die organisasie voer aan Godongwana se hantering van die voorgestelde BTW-verhoging, voor dit heeltemal geskrap is, dui op besluiteloosheid en ‘n gebrek aan kommer oor die armes. Tebogo Mashilompane van die forum sê die minister se optrede bewys hy is uit voeling met die situasie en nie geskik om die land se finansies te bestuur nie:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad het dit duidelik gemaak dat voortgesette Covid-19-toelaag-betalings aan taxi-operateurs wettig is en sê streng geskiktheidskriteria word gevolg. Volgens die raad kwalifiseer slegs operateurs wat aan belastingwette voldoen en geldige bedryfslisensies het. Hulle het bewerings van onreëlmatige betalings verwerp en sê vertragings is dikwels te wyte aan lisensie-agterstande, nie wanbestuur nie. Rebecca Phala van Santaco glo steeds die voortgesette samesprekings met die regering sal uiteindelik lei tot subsidies vir die taxibedryf:
# Die Departement van Water en Sanitasie het verdere beheerde water-uitvloei by die Vaalrivierstelsel ingestel. Twee bykomende sluise is oopgemaak met die Vaaldam wat tans 111-persent vol is. Intussen het die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, gewaarsku die uitvloei sal ook by die Bloemhofdam verhoog word met die dam wat byna 107-persent vol is. Mavasa sê oorvol damme, insluitend Grootdraai, Gariep en Vanderkloof, het vloedrisiko’s veroorsaak en inwoners naby vloedlyne word versoek om laagliggende gebiede te ontruim en te vermy.
# Wêreldleiers veroordeel Rusland se jongste lugaanvalle op Oekraïne waarin 12 mense in Kiev dood is. Frankryk se president, Emmanuel Macron, sê Russiese president Vladimir Putin moet ophou lieg dat hy vrede in Oekraïne wil hê. Die Britse eerste minister, Keir Starmer, sê die lugaanvalle is ʼn teken dat Moskou die aggressor is. Denemarke se minister van Buitelandse Sake, Lars Løkke Rasmussen, sê die aanval is ʼn bewys van Putin se wreedheid, terwyl sy Tsjeggiese ampsgenoot, Jan Lipavský, sê Rusland wil nie ʼn vredesooreenkoms hê nie.
# Rugby: Die Springbok-heelagter Willie le Roux en flank, Marco van Staden, is terug in die Bulle-groep wat vanaand die verdedigende kampioene, Glasgow Warriors, in die Verenigde Rugbykampioenskap in Skotland takel. Le Roux, wat in Maart ʼn operasie ondergaan het, is op die bank terwyl Van Staden op nommer agt begin nadat hy verlede naweek se wedstryd teen Munster misgeloop het. Suid-Afrika se Onder-20-slot, Jacobus Grobbelaar, is gereed om sy debuut van die bank te maak. Die Bulle is derde op die VRK-punteleer, en vier punte agter Glasgow wat tweede is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-82-sent teen die dollar, 21-rand-36-sent teen die euro en 25-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-690-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-355-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….