Nuus 07:00
BULLETIN 3 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola is bekommerd oor Zuma se besoek aan Indië
# Zelensky belowe wraak nadat minstens 27 sterf in ’n Russiese aanval op Kiëf
# En krieket: Engeland klop Suid-Afrika en haal die T20 Wêreldbeker-eindstryd vir vroue
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê oudpresident Jacob Zuma se onlangse besoek aan Indië wek kommer. Die MK-partyleier verskyn op ‘n foto saam met die voortvlugtige Ajay Gupta en Suid-Afrika se hoë kommissaris in Indië, Anil Sooklal, by die Sidipeeth Shri Dakshin Kali tempel in Haridwar. Die minister het ʼn ondersoek gelas na Sooklal se betrokkenheid by Zuma se besoek. Lamola sê dis kommerwekkend dat ʼn voormalige staatshoof ʼn buitelandse beleid kan voer wat parallel is aan dié van die huidige regering:
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê Afrika-lande moet gekoördineerde en vooruitskouende ekonomiese en beleidsreaksies aanvaar om hul ekonomieë teen globale skokke te beskerm. Hy sê dit sal vereis dat noodsaaklike minerale gebruik word vir nywerheidsontwikkeling, die bevordering van voedselsekerheid, handelsintegrasie in die streek en die versterking van veerkragtige infrastruktuur en verskaffingskettings. Godongwana waarsku die veranderende ontwikkeling van die wêreld se finansiële landskap hou ʼn groot gevaar vir die streek in. Hy sê hierdie veranderende landskap vereis ʼn strukturele hervorming in ontwikkelingsfinansiering in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap.
# Suid-Afrika se laaste oorblywende mangaansmelter, Transalloys, het produksie gestaak weens hoë elektrisiteitskoste en voortgesette finansiële verliese. Die maatskappy sê sowat ses-honderd werksgeleenthede en ‘n verdere sewe-duisend mense se lewensbestaan is in gevaar. Konstantin Sadovnik van Transalloys sê tensy Eskom en die regering teen die einde van hierdie maand ooreenkom oor ‘n volhoubare elektrisiteitstarief, kan die maatskappy gedwing word om permanent te sluit:
# Oekraïne se president Volodymyr Zelensky het beloof om wraak te neem ná Rusland se aanvalle op Kiëf waarin minstens 27 mense dood en 91, insluitend twee kinders, gewond is. Moskou het byna 500 hommeltuie en meer as 70 missiele op Oekraïne afgevuur en woongeboue en militêre basisse beskadig. Rusland se weermag sê sy aanval is uit wraak vir Oekraïnse aanvalle op sy eie burgerlike infrastruktuur. Zelensky sê as sy bondgenote ooreenkomste nagekom het om lugafweer-missiele aan Oekraïne te verskaf, sou die skade nie so groot gewees het nie:
# Krieket: Die gasvrou-land, Engeland, takel die sesmalige kampioene, Australië, Sondag op Lord’s in die vroue se T20 Wêreldbeker-eindstryd. Dit volg na Engeland se sege van 40 lopies oor Suid-Afrika op die Oval. Kaptein Nat Sciver-Brunt het die beste gedoen met 75 van 47 balle en het saam met Heather Knight 133 lopies om die vierde paaltjie bygedra tot Engeland se 169 vir vyf in hul 20 boulbeurte. Daarna is die Proteas, ten spyte van Tazmin Brits se 51, tot 129 vir agt beperk. Sondag spook die toernooi se twee onoorwonne spanne sake uit.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-54-sent teen die euro en 21-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-633-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-183-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-95-sent per vat.
# En ten slotte: CapeNature se marienebewaringswerk sal bekendgestel word in die nuwe Afrikaanse avontuurreeks Hey Skipper, wat Saterdag op KYKnet op DStv begin. Die reeks van 13 episodes sal die Wes-Kaap se beskermde mariene-gebiede en ander natuurreservate bekendstel, en pogings om seelewe en kus-ekosisteme te beskerm, beklemtoon. CapeNature sê die program sal help om bewustheid van bewaring te verhoog, volhoubare toerisme te bevorder en mense aan te moedig om die provinsie se kuslyn te waardeer en te beskerm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….