Nuus 07:00
BULLETIN 6 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Binnelandse Sake-amptenaar betrap terwyl sy onwettige ID’s aan ongedokumenteerde buitelanders verkoop
# Meer as vier-duisend kwalifiserende gemeenskapsdiens-personeel en mediese interns vandeesweek geplaas
# Motorsport: Audi se yster Ekstrom wen Dakar-tydren se tydtoets
# ‘n Sewe-en-dertigjarige amptenaar van Binnelandse Sake in Upington in die Noord-Kaap is deur die Anti-korrupsie-ondersoekeenheid betrap waar sy na bewering onwettige identiteitsdokumente verkoop het aan ongedokumenteerde buitelandse burgers. Die amptenaar is op heterdaad betrap terwyl sy kontant ontvang het vir die verskaffing van vervalsde dokumente. Sy het te doen met korrupsie-aanklagte en sal in die plaaslike Landdroshof verskyn. Die departement sukkel met ‘n voortslepende korrupsieprobleem, met vorige sake waarby amptenare betrek is by die verkoop van dokumente aan ongedumenteerde buitelanders. Die eenheid onderneem om steeds korrupsie uit te roei en oortreders aan die man te bring.
# Die vakbond van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, SAMATU, doen ‘n beroep vir die plasing van gegradueerde dokters. Die organisasie berig meer as 800 gekwalifiseerde dokters is steeds werkloos na die voltooiing van hulle mediese internskap en gemeenskapsdiens. SAMATU se hoofsekretaris, Cedric Sihlangu, sê daar is ook mediese interns in Gauteng wat hulle eerste salarisbetaling ontvang het na twee maande sonder vergoeding:
Intussen sê die Departement van Gesondheid sê altesaam twee-duisend-101 kwalifiserende gemeenskapsdienspersoneel en twee-duisend-210 mediese interns is vanaf vandeesweek Dinsdag by verskeie instellings regdeur die land geplaas. Tweehonderd-en-twintig dokters se aansoeke vir gemeenskapsdiens kon nog nie in aanmerking kom om vandeesmaand diens te begin nie, omdat hulle laat met hul internskappe begin het. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale sê gevolglik sal poste eers later in die jaar aan hulle toegeken word:
# Bangladesj gaan môre na die stembus. Die eerste minister, Sheikh Hasina, sal waarskynlik ‘n vierde agtereenvolgende termyn beklink en ʼn vyfde algeheel vir haar Awami-liga-geleide alliansie. Die Nasionalisteparty van Bangladesj het onderneem om die stemmery te boikot omdat Hasina weier om uit te tree, nadat sy reeds sedert 2009 regeer. Vyftien-miljoen kiesers stem die eerste keer, met een-duisend-896 kandidate wat meeding om 300 setels in die Parlement, waarvan 5,1-persent vroue is. Hasina kry krediet dat sy nuwe lewe in die land se ekonomie en sy aansienlike klerebedryf geblaas het.
# En, laastens, Motorsport: Mattias Ekstrom van Audi was die vinnigste jaer in die Dakar Rally se tydtoets van 27 kilometer oor die sandwoestyn van Al-Ula in Saoedi-Arabië. Die tweemalige verdedigende kampioen Nasser Al-Attiyah het ‘n effense ompad gery en 12de geëindig. Ekstrom van Swede se tyd was 16 minute en 30 sekondes, 23 sekondes voor die Amerikaner Seth Quintero van Toyota wat sy debuut op die tydrenvlak gemaak het. Die Franse veteraan, Sebastian Loeb het 38 sekondes later, derde geëindig wat ‘n belowende begin vir hom is. Die tye het ‘n keuse van wegspringposisies verskaf vir vandag se afskop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….