Nuus 07:00
BULLETIN 23 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Internasionale Monetêre Fonds verlaag Suid-Afrika se groeivooruitsig
# Die ANC waarsku teen berigte van ‘n sluipmoord op Paul Mashatile
# En Olimpiese Spele: Simone Biles het nog nie besluit oor haar deelname aan die Los Angeles-spele nie
# Die Internasionale Monetêre Fonds het Suid-Afrika se ekonomiese groeiverwagting vir 2025 na een-persent hersien, wat beduidend laer is as die Nasionale Tesourie se vooruitskatting van 1,5-persent in Januarie. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het verlede maand nog ‘n groeikoers van 1,7-persent vir vanjaar voorspel. Die IMF skryf die negatiewe hersiening toe aan verhoogde globale handelspanning, veral die uitwerking van die Amerikaanse president, Donald Trump, se tariewe, wat wêreldwye voorsieningskettings ontwrig het en beleggersvertroue verswak. Die IMF waarsku dat voortgesette handelspanning globale ekonomiese groei verder kan belemmer.
# Die ANC se tesourier-generaal, Gwen Ramokgopa, waarsku teen berigte oor ‘n sluipmoordpoging op adjunkpresident Paul Mashatile. Daar is verlede maand op die N12-hoofweg op sy motorkonvooi geskiet toe hy van ʼn ANC-vergadering in Boksburg op pad was huis toe. Geen verdagtes is nog geïdentifiseer nie. Ramokgopa sê die ANC sal die bewerings intern beoordeel, maar dis die betrokke staatsagentskappe se verantwoordelikheid om sulke voorvalle te ondersoek:
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het ʼn omvattende verslag uitgegee waarin hy sy visie vir gas se rol in die land se veranderende energielandskap uiteensit. Die strategie wil probleme in die plaaslike gasbedryf aanspreek, veral die kwynende gasvoorraad uit Mosambiek. Nersa sê die strategie sit belangrike doelwitte uiteen om onder meer gasbronne en -infrastruktuur te diversifiseer en te verseker. Die plan beklemtoon voorkeur aan vloeibare aardgas as mees volhoubare keuse om die gaping in gasvoorraad op die kort tot medium termyn aan te vul.
# Die Stad Tshwane sê veranderings aan sy oortydbeleid sal nie dienslewering beïnvloed nie. Dit volg nadat plasings op sosiale media die idee geskep het daar sal kragonderbrekings wees as gevolg van die nuwe reëls. Die veranderings volg nadat die Ouditeur-Generaal herhaalde oortredings van die 40-uur maandelikse oortyd-beperking uitgelig het. Die stad se woordvoerder, Selby Bokaba, sê daar sal steeds bykomende oortyd verskaf word vir noodherstelwerk, soos met kragonderbrekings, waterlekke en rioolprobleme:
# Die president van die Europese Sentrale Bank, Christine Lagarde, sê sy hoop nie president Donald Trump van Amerika gaan die voorsitter van die Federale Reserwe, Jerome Powell, afdank nie. Trump het Powell in sy eerste termyn aangestel, maar oorweeg om hom af te dank voor sy termyn verstryk. Hy plaas druk op Powell om rentekoerse te verlaag en waarsku die Amerikaanse ekonomie kan andersins verlangsaam. Lagarde het aan CNBC gesê sy en Powell is gewoond aan politieke druk:
# Olimpiese Spele: Die Amerikaanse gimnas Simone Biles het nog nie besluit of sy aan die volgende Spele in Los Angeles gaan deelneem nie. Die mees bekroonde gimnas ooit is Maandag op die Laureus-wêreldsporttoekennings as sportvrou van die jaar aangewys. Biles sê verlede jaar se Spele in Parys, waar sy nog drie gouemedaljes gewen het om haar totaal tot sewe te verhoog, het ’n reuse-tol op haar liggaam geëis. Sy sê sy sal werklik opgewonde moet wees oor die idee voor sy aan die Spele in haar vaderland sal deelneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-57-sent teen die dollar, 21-rand-13-sent teen die euro en 24-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-51-dollar-50-sent. Die prys van goud is drie-duisend-361-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….