Nuus 07:00
BULLETIN 17 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die presidensie sê hy het geen besware oor die aanstelling van Mcebisi Jonas ontvang nie
# AfriForum gaan voort met sy regstryd teen rassistiese waterregte
# En die Wêreldhandelsorganisasie waarsku dat wêreldhandel vanjaar sal afneem
# Die presidensie sê hy het geen kommunikasie van president Donald Trump se administrasie ontvang dat hulle beswaar maak teen Mcebisi Jonas se aanstelling as spesiale gesant na Amerika nie. Die voormalige adjunkminister van Finansies het Trump in 2020 ‘n rassis, homofoob en narsis genoem. Die presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Jonas het sy opmerkings oor Trump in sy persoonlike hoedanigheid gemaak en dat politieke kwessies soos die tariefsituasie apart van persoonlike menings beskou moet word:
# AfriForum het appèl aangeteken teen die besluit van die Departement van Water en Sanitasie om die oordrag te blok van besproeiings-waterregte van ‘n swart boer na ‘n wit boer. Die departement voer aan die stap weerspreek sy doelwitte rondom transformasie. Marais de Vaal van AfriForum dring aan ras moet nie die enigste faktor in waterlisensiebesluite wees nie en waarsku die lewensbestaan van landelike werkers verkeer in gevaar:
# Die Departement van Gesondheid waarsku Paasnaweek-reisigers om waaksaam te wees met gevalle van malaria wat toeneem in Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal. Die departementele woordvoerder, Foster Mohale, het ook gewaarsku teen moontlike oor-grensverspreiding. Mohale het reisigers aangeraai om malaria-medisyne te gebruik, afweermiddels aan te wend, en onder muskietnette te slaap. Hy het vroeë toetsing en behandeling aangemoedig om verspreiding van die siekte te voorkom:
# Die ANC in KwaZulu-Natal sê onlangse verwikkelinge in die regering van nasionale eenheid oor die begrotingskwessie sal nie die koalisie in die provinsie raak nie. Die ANC, DA en IVP regeer saam in die provinsie. Kommer bestaan egter dat indien die RNE misluk, die provinsie aan die MK-party oorhandig sal word wat die meeste stemme het. Die koördineerder van KZN se provinsiale taakspan, Mike Mabuyakhulu, sê hulle het meganismes om konflik te hanteer wat sal keer dat geskille die koalisie vernietig.
# Die Wêreldhandelsorganisasie waarsku president Donald Trump se omvattende globale tariewe gaan internasionale handel vanjaar kniehalter. Sedert 5 April geld ʼn basiese tarief van tien-persent op byna alle invoere na Amerika, alhoewel sommige lande en goedere hiervan uitgesluit is. Die organisasie het voorheen verwag wêreldwye handel gaan vanjaar met 2,7-persent groei, maar voorspel nou dit gaan met 0,2-persent daal. Hy sê onsekerheid oor handelsbeleid kan sakevertroue laat afneem, beleggings verminder en daardeur ekonomiese groei belemmer.
# Statebondspele: Sewe lande het belangstelling bevestig om die byeenkoms in 2030 of 2034 aan te bied, wat vrese besweer dat die eeu-oue kompetisie gaan eindig ná volgende jaar se Spele in Glasgow. Die Skotse stad het verlede jaar oorgeneem nadat die Australiese deelstaat Victoria om finansiële redes as gasheer onttrek het. Glasgow se aanbod van ‘n afgeskaalde geleentheid het volgens berigte ander belangstelling gelok danksy die verminderde koste. Die aanbiedings sal die volgende vyf maande bestudeer word, en die voorkeur-bieër vir 2030 behoort in November aangekondig te word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 21-rand-43-sent teen die euro en 24-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-459-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-340-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….