Nuus 07:00
BULLETIN 11 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die gesprekke oor die begrotingsdooiepunt verloop goed
# Die regering van nasionale eenheid sal slegs hersaamgestel word indien partye wegstap
# En die Withuis sê China se tariefkoers is nou op 145-persent
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê onderhandelings oor die begrotingsdooiepunt vorder goed en hulle is optimisties dat hulle ‘n oplossing sal vind. Die party beraadslaag met partye soos ActionSA en Build One South Africa. Die fiskale begrotingsraamwerk is verlede week in die Parlement aanvaar, maar partye wil hê die BTW-verhoging van 0,5-persent moet geskrap word. Mbalula het gister tydens ʼn mediakonferensie in Sandton gesê hulle sal die onderhandelings teen volgende week afhandel:
Mbalula sê ook die regering van nasionale eenheid kan slegs hersaamgestel word indien een of meer vennote wegstap. Daar was oproepe dat die DA uit die koalisieregering geskop word omdat hy verlede week teen die fiskale begrotingsraamwerk gestem het. Mbalula sê die ANC beywer hom vir ʼn reëls-gebaseerde benadering wat die funksie van die koalisieregering in die toekoms betref:
# ActionSA het die burgemeester van Tshwane, Nasiphi Moya se stadsrede verwelkom, wat die sterk vordering uiteengesit het wat onder die koalisie gemaak is. Hoogtepunte sluit in ‘n volledig befondsde begroting, 2,8-miljard-rand in beraamde reserwes, en ‘n vermindering van Eskom se skuld met een-miljard-rand. Michael Beaumont van ActionSA sê ekonomiese herlewing, SMME-ondersteuning en infrastruktuur-opgraderings is aan die gang. Hy sê Tshwane het meer as duisend-200 onwettige stortingsterreine skoongemaak en is op ‘n bestendige pad na finansiële stabiliteit, veiligheid en welvaart.
# Die minister van Water en Sanitasie, besoek vandag die Bloemhofdam om skade aan die infrastruktuur te evalueer ná stroomaf-ontruimings weens vloede. Die woordvoerder, Wisane Mavasa, sê die dam, tans op 111,07-persent, laat meer as twee-duisend kubieke meter per sekonde vry om die swaar invloei vanaf die Vaaldam, wat op 115,57-persent staan, te bestuur. Sy sê vyf sluise bly oop aangesien albei damme hoë watervlakke moet hanteer, en dit kan ‘n vloedrisiko veroorsaak:
# Die Withuis het bevestig tariewe op Chinese goedere is nou 145-persent, en onmiddellik van krag. President Donald Trump het Woensdag ʼn heffing van 125-persent op invoere uit China aangekondig. Die Withuis sê dit is bykomend tot ʼn bestaande fooi van 20-persent, wat Trump in die eerste weke van sy tweede termyn ingestel het omdat China volgens berigte niks doen om die invloei van fentaniel te keer nie. Intussen het Beijing ʼn tarief van 84-persent ingestel op Amerikaanse goedere wat die land binnegaan.
# Krieket: Die veteraan-kolwer Mahendra Singh Dhoni sal Chennai Super Kings die res van die Indiese Premierliga aanvoer nadat Ruturay Gaikwad moes onttrek weens ‘n besering. ‘n MRI-skandering het bevestig hy het sy elmboog gebreek. Die 43-jarige Dhoni was van 2008 tot verlede jaar kaptein van Chennai voor hy aan Gaikwad oorgegee het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-40-sent teen die dollar, 21-rand-92-sent teen die euro en 25-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-432-dollar-80-sent. Die prys van goud is drie-duisend-214-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….