Nuus 07:00
BULLETIN 10 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COPE sê die regering van nasionale eenheid moet bewys dit is meer as ’n brose gerieflikheidsverdrag
# Eskom rapporteer ‘n afname in infrastruktuurmisdaad
# En Goldman Sachs waarsku daar is steeds ‘n 45-persent kans op ‘n Amerikaanse resessie
# Die Congress of the People sê hy weier om ’n toeskouer te wees terwyl die regering van nasionale eenheid gevaar loop om in grondwetlike chaos te verval. Die ANC oorweeg volgens berigte om die koalisieregering opnuut saam te stel nadat die DA verlede week in die Parlement teen die fiskale beleidsraamwerk gestem het. COPE se waarnemende nasionale voorsitter, Pakes Dikgetsi, sê die regering van nasionale eenheid moet aan landsburgers bewys hy is meer as ‘n brose gerieflikheidsverdrag:
# Eskom het ‘n afname in infrastruktuurmisdaad rapporteer, insluitend die van transformators en mini-substasies, maar waarsku diefstal en vandalisme hou steeds ‘n groot bedreiging in vir elektrisiteitsvoorsiening en openbare veiligheid. Eskom se verliese het tussen April 2024 en Februarie 2025 altesaam 221-miljoen-rand beloop, minder as die 271-miljoen-rand oor dieselfde tydperk in die vorige jaar. Die kragvoorsiener het in ‘n verklaring die arrestasie geloof van ses verdagtes wat in besit was van Eskom-eiendom ter waarde van 1,5-miljoen-rand. Eskom doen ‘n beroep op gemeenskappe om te help met die beskerming van kritieke infrastruktuur.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het die forensiese verslag oor die ineenstorting van die gebou in George, wat 34 lewens geëis het, verwelkom. Macpherson sê die bevindinge is ‘n eerste kritieke stap na aanspreeklikheid en genesing. In ‘n verklaring het die minister bevestig dat die departement sy eie verslag, wat gemik is op professionele en statutêre oortredings deur belangegroepe in die boubedryf, in Mei sal vrystel. Hy het beklemtoon dat die bevindinge gemik is op die verbetering van toesig, die afdwing van regulasies en die bevordering van veiligheid op konstruksieterreine om toekomstige tragedies te voorkom.
# Die Gautengse Onderwysdepartement het sy vennootskap met Nali’Bali onmiddellik gestaak. Dit volg nadat ʼn Nali’Bali-praktisyn na bewering verlede maand ʼn graad 3-leerder by die Braamfischerville Primary School seksueel aangerand het. Die vermeende oortreder is geskors en in hegtenis geneem. Hy sal Maandag om borgtog aansoek doen. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê Nali’Bali is ʼn nasionale veldtog wat kinders aanmoedig om vir genot te lees en hulle potensiaal deur lees en storievertel te bereik:
# Die Wall Street-bank, Goldman Sachs, waarsku die Amerikaanse ekonomie kan steeds in ʼn resessie verval, selfs nadat president Donald Trump tariewe op spesifieke lande vir 90 dae opgehef het. Tydens die opheffing sal ʼn universele tarief van tien-persent geld, maar Trump het tariewe vir China tot 125-persent verhoog. Goldman Sachs se ekonome voorspel die Amerikaanse ekonomie sal vanjaar teen slegs 0,5-persent groei. Hulle sê daar is ʼn 45-persent kans vir ʼn resessie oor die volgende 12 maande.
# Gholf: Die 32ste Suid-Afrikaanse Vroue Ope, die laaste toernooi in vanjaar se Sonskyn Vrouetoer, begin vandag by die Erinvale Country and Golf Estate in die Wes-Kaap. Suid-Afrikaners soos Casandra Alexander, Kaiyuree Moodley en Danielle du Toit is deel van die sterk groep wat deelneem. Die prysgeld is sowat 7,1-miljoen-rand. Moodley, wat die Sonskyn Vrouetoer vanjaar behoorlik stormgeloop het, sê sy het ʼn goeie seisoen gehad:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-39-sent teen die dollar, 21-rand-27-sent teen die euro en 24-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-316-dollar-60-sent. Die prys van goud is drie-duisend-87-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….