Nuus 07:00
BULLETIN 9 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mmusi Maimane sê Suid-Afrika kan nie wanbestuur bekostig deur die regering van nasionale eenheid nie
# Binnelandse Sake het ses amptenare weens korrupsie afgedank
# En die Suid-Afrikaanse Raad vir Balju’s veroordeel aanvalle op balju’s
# Build One South Africa se leier, Mmusi Maimane, sê die land het nie ‘n belastingprobleem nie, dit het ʼn regeringsprobleem. Die ANC wil hê die regering van nasionale eenheid moet heringestel word en het sy onderhandelingspan opdrag gegee om binne die volgende vyf dae met partye binne en buite die koalisieregering te beraadslaag. Maimane sê BOSA gaan nie toelaat dat sukkelende Suid-Afrikaners die prys betaal vir die regering van nasionale eenheid se elite-wanbestuur nie:
# Die Departement van Binnelandse Sake het ses amptenare weens bedrog en korrupsie afgedank, wat die totaal sedert Julie 2024 op 33 te staan bring. Ses ander het finale skriftelike waarskuwings ontvang, agt amptenare het tronkstraf gekry, en 19 gaan vervolg word. Dit volg na die inwerkingstelling van die Teen-korrupsieforum vir Grensbestuur- en Immigrasie. Minister Leon Schreiber het belowe om korrupte amptenare in die departement uit te roei.
# Die Suid-Afrikaanse Raad vir Balju’s doen ʼn beroep op die ministers van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, en Polisie om ondersoek in te stel na aanvalle op balju’s in die land. ʼn Balju van die hof in Mpumalanga, Andrew Shabalala, is verlede week buite sy kantoor doodgeskiet. In Februarie is die waarnemende balju in Giyani, Limpopo, Thapelo Mojapelo, vermoor terwyl hy aan diens was. Die raad sê die toename in hierdie geweld is onaanvaarbaar en mag nie voortgaan nie. Hy sê hy sal dringend maatreëls oorweeg om die veiligheid en sekerheid van balju’s te verseker.
# Die ATM sê die regstelsel verkeer in gevaar om in duie te stort omdat getuies vermoor word. Dit volg ná ‘n sleutelgetuie gister by die Wynberg-landdroshof in die Wes-Kaap vermoor is. Die ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê die moord is ‘n skrikwekkende herinnering aan sistemiese mislukkings in die getuiebeskermingsprogram. Ntshona voeg by die staat se versuim om getuies te beskerm, veroorsaak vrees en weerhou ander moontlike getuies om te praat:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, het ʼn nuwe voorstel van Israel om aflewerings in Gaza te beheer, verwerp. Hy sê as hulp opraak, begin die grusaamheid van voor af. Sedert 2 Maart is geen hulp in die Palestynse gebied met sowat 2,1-miljoen mense afgelewer nie. Israel sê hy gaan nie toelaat dat goedere en voorrade in Gaza afgelewer word voordat Hamas al die gyselaars vrylaat nie. Guterres sê Gaza is ʼn slagveld waar burgerlikes sterf:
# Gholf: Dubbele Meesterskampioen, Bernhard Langer verwag ‘n emosionele afskeid wanneer hy hierdie naweek vir die laaste keer in die US Masters op die baan stap. Die 67-jarige het die gesogte Groen Baadjie in 1985 en in 1993 gewen, en sal vir die 41ste keer in die beroemde toernooi in Augusta, Georgia, speel. Hy beskryf sy twee oorwinnings, sy enigste groot titels, as die belangrikste van sy loopbaan. Langer sê hoewel dit sy laaste Masters sal wees, beplan hy om nog vir ‘n geruime tyd mededingend te speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-68-sent teen die dollar, 21-rand-70-sent teen die euro en 25-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-496-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-988-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….