Nuus 07:00
BULLETIN 7 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Macpherson sê hy is nie afgeskrik deur doodsdreigemente nie
# Meer as 50 lande het die Withuis genader om oor tariewe te onderhandel
# En gholf: Mimi Rhodes van Engeland wen die Johannesburgse Vroue Ope
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê ten spyte van doodsdreigemente gaan hy voort om die Onafhanklike Ontwikkelingstrust in sy regmatige plek te herstel. Hy het Sondag inligting verskaf oor PwC se ondersoek na die suurstofaanleg-tender van 800-miljoen-rand by die trust. Van die drie maatskappye by die transaksie betrokke, is twee na bewering nie by die Suid-Afrikaanse Regulerende Owerheid vir Gesondheidsprodukte geregistreer nie. Macpherson sê die kultuur van korrupsie moet end kry:
# Die MK-party ontken dat nalatigheid die rede is vir sy vyf beskikbare plekke in die Parlement. Sekretaris-generaal Floyd Shivambu sê die setels sal na 29 Mei gevul word in ooreenstemming met die verkiesingstydlyn. Hy voeg by die party gaan hierdie reël uitdaag. MK het hom ook gedistansieer van die Parlement se 2025-begrotingsraamwerk en sê hy kan nie die skuld vir die stemuitslag kry nie, al was tien parlementslede afwesig:
# Die Departement van Basiese Onderwys sal binnekort fase vyf van die Basiese Onderwys Indiensnemingsinisiatief aankondig, wat op jeugdiges van 18 tot 34 gerig is. Die departement werk saam met die Departement van Indiensneming en Arbeid, en word ondersteun deur die Nywerheidsontwikkelingskorporasie van Suid-Afrika. Die inisiatief het ten doel om landwyd meer as 200-duisend skoolgebaseerde werksgeleenthede te skep. Werwing word gratis gedoen deur SAYouth.mobi. Die jeug word versoek om hul aanmeldbesonderhede te hernu en om aansoek te doen vir polisieklaring. Die departement het ook gewaarsku teen moontlike swendelaars.
# Die DA in Gauteng ondersteun die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging-vakbond se oproep om die voorgestelde besnoeiings aan dokters se oortyd in heroorweging te neem. Woordvoerder, Jack Bloom, waarsku hierdie stap kan sekere dokters se salarisse met ‘n derde verminder. Hy blameer die Gautengse Gesondheidsdepartement se onbetaalde agterstallige skuld van meer as vyf-miljard-rand vir die besnoeiings. Bloom bepleit nuwe leierskap om gehaltesorg in Gautengse hospitale te verseker:
# Meer as 50 lande het na die Withuis uitgereik om te onderhandel nadat president Donald Trump wêreldwyd handelstariewe ingestel het. Dit is volgens die direkteur van Amerika se Nasionale Ekonomiese Raad, Kevin Hassett. Trump se algemene tien-persent-belasting op invoerprodukte is nou van krag en hierdie week volg nog hoër tariewe vir talle lande, insluitend Suid-Afrika. Hassett ontken die tariewe is deel van Trump se strategie om finansiële markte te laat ineenstort en laer rentekoerse af te dwing.
# Gholf: Mimi Rhodes van Engeland het die Johannesburgse Vroue Ope by die Modderfontein-gholfklub met een hou gewen en haar tweede agtereenvolgende Europese Toer-titel vir Vroue opgeraap. Die 23-jarige speler het ‘n ronde van twee onder 71 behaal om op 14 onder eerste op die voorlopersbord te eindig. Die Suid-Afrikaner, Casandra Alexander, het in die laaste ronde 69 behaal om tweede te eindig op 13 onder baansyfer, terwyl Helen Briem van Duitsland derde is. Rhodes gee erkenning aan Alexander, wat haar na die laaste putjie geneem het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-25-sent teen die dollar, 21-rand-11-sent teen die euro en 24-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-655-dollar-50-sent. Die prys van goud is drie-duisend-20-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….