Nuus 07:00
BULLETIN 4 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau sê Suid-Afrika sal nie die Amerikaanse tariewe vergeld nie
# Die VN soek aanspreeklikheid vir die lyding van burgerlikes in die DRK
# En daar is ‘n vier-persent kans dat ‘n groot asteroïed die maan gaan tref
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê Suid-Afrika gaan nie ‘n wraakhouding inneem in reaksie op die nuwe wêreldwye tariewe wat Amerika ingestel het nie. President Donald Trump het Woensdag ʼn basiese tarief van tien-persent op alle invoere na Amerika ingestel, terwyl 60 lande, insluitend Suid-Afrika, selfs hoër tariewe moet betaal. Tau het Donderdag by die Gautengse Beleggingskonferensie gesê bande tussen Suid-Afrika en Amerika is nie net transaksioneel nie, maar op wedersydse respek gebou:
Tau sê ook, Suid-Afrika en ander Afrikanasies moet hul handelsportefeulje afwissel. Hy sê hulle sal met Amerika beraadslaag oor die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika:
# Die portefeuljekomitee oor Gemeenskapsveiligheid in die Gautengse wetgewer het die polisie geloof vir hul vinnige optrede hierdie week toe beamptes twee groot rooftogte in Soweto voorkom het. Die polisie het in twee voorvalle gewapende verdagtes onderskep. Twee verdagtes is tydens ‘n transitorooftog-poging dood en vier is gewond toe hulle probeer het om koeriervoertuie te beroof. Die komitee se voorsitter, Bandile Masuku, het ook aangesluit by oproepe vir geregtigheid vir die sewejarige verkragtingslagoffer van die Oos-Kaap, Cwecwe.
# Die Verenigde Nasies se Menseregtekantoor sê die veldtog wat Rwandees-gesteunde M23-rebelle in Januarie in die Demokratiese Republiek die Kongo begin het, vererger ʼn reeds haglike humanitêre krisis. Meer as sewe-duisend mense is in gevegte in die ooste van die DRK dood sedert M23-rebelle met hernude aanvalle begin het. Die VN se adjunk-hoëkommissaris vir menseregte, Nada Al-Nashif, sê enige planne vir volhoubare vrede moet die basiese oorsake van die konflik aanspreek. Dit sluit in die onwettige uitbuiting van die nasionale rykdom wat in natuurlike hulpbronne opgesluit is:
# Krieket: Die Protea-snelbouler Kagiso Rabada het die Gujarat Titans in Indië verlaat en keer weens persoonlike redes na Suid-Afrika terug. Die 28-jarige Rabada het in die Titans se eerste twee wedstryde in die Indiese Premierliga gespeel. Hy het een paaltjie vir 41 lopies platgetrek om Punjab Kings te verslaan en een vir 42 lopies in die oorwinning oor Mumbai Indians. Hy was Woensdag afwesig in die Titans se derde wedstryd teen Royal Challengers Bengaluru. Dis nie bekend wanneer hy terugkeer nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-72-sent teen die euro en 24-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-869-dollar-20-sent. Die prys van goud is drie-duisend-112-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-68-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Reuse-asteroïed het ‘n vier-persent kans om die maan te tref nadat vrese aanvanklik bestaan het dat dit die aarde kan tref. Dit is volgens nuwe data vanaf die James Webb-ruimteteleskoop. Die asteroïed, wat vermoedelik ‘n hele stad kan vernietig, het in Februarie ‘n nuwe rekord opgestel vir die grootste kans, naamlik 3,1-persent, om ons planeet te tref wat wetenskaplikes nog ooit gemeet het. Die aarde se planetêre verdedigingsgemeenskap het ingespring en verdere waarnemings het die kanse uitgesluit dat die asteroïed, genaamd 2024 YR4, die aarde op 22 Desember 2032 sal tref.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….