Nuus 07:00
BULLETIN 2 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê ActionSA het Suid-Afrika uitverkoop
# Die EFF sê die aanvaarding van die fiskale raamwerkverslag is gebrekkig
# En AfriForum vra vir internasionale sanksies teen Julius Malema
# Die DA beweer ActionSA het ‘n ooreenkoms met die ANC gesluit om ʼn BTW-verhoging van een-persent oor die volgende twee jaar in te stel. Dit is ten spyte van ActionSA se verklaring dat hy die aanbeveling oor die 0,5-persent-verhoging in die fiskale raamwerkverslag kon verwyder. Willie Aucamp van die DA sê hulle het geveg en onderhandel vir ʼn begroting wat groei en werk sou skep, die vermorsing in die regering verminder en BTW-verhogings sou stop:
Intussen beskryf die EFF die proses waarvolgens die parlementêre staande komitee oor Finansies die fiskale raamwerkverslag aanvaar het as gebrekkig, onsamehangend en onwettig. Die party sê die komitee het voorstelle aanvaar wat ʼn 0,5-persent BTW-verhoging insluit. Die EFF-woordvoerder, Sinawo Thambo, sê ActionSA het Suid-Afrikaners mislei deur te beweer hulle versoek dat die BTW-verhoging geskrap word, word in die aanvaarde verslag weerspieël:
# AfriForum doen ‘n beroep op die internasionale gemeenskap om sankies toe te pas op die leier van die EFF, Julius Malema, vir vermeende menseregteskendings gekoppel aan die Kill the Boer-dreunsang. AfriForum sê Suid-Afrika se howe het misluk om Malema verantwoordbaar te hou. Uitvoerende hoof, Kallie Kriel, sê AfriForum is besig met die opstel van ‘n dossier oor Malema se vermeende aanhitsing tot geweld, wat aan wêreldregerings voorgelê sal word om druk uit te oefen vir strafmaatreëls:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, versoek meer geslagsgeweldbewustheid in skole nadat ‘n sewe-jarige meisie verlede Oktober in ‘n klaskamer by die Bergview College in Matatiele, in die Oos-Kaap verkrag is. Maynier doen ‘n beroep op enigiemand wat bewus is van mishandeling in Wes-Kaapse skole om dit by die SAPD of die Veilige Skole-blitslyn aan te meld:
# Die Amerikaanse Justisiedepartement vra die doodstraf vir Luigi Mangione, wat beskuldig word van die moord in Desember verlede jaar op UnitedHealthcare se uitvoerende hoof, Brian Thompson. ʼn Groot jurie in Manhatten het die 26-jarige Mangione op elf aanklagte skuldig bevind. Dit sluit in een van moord in die eerste graad, twee van moord in die tweede graad, asook aanklagte wat met wapens en vervalsing verband hou. Hy staar staats- en federale aanklagte in die gesig. Prokureur-generaal Pam Bondi noem die moord op Thompson ʼn voorafbeplande, koelbloedige sluipmoord wat Amerika geskok het.
# Krieket: Die Punjab Kings het agtereenvolgende oorwinnings in die Indiese Premierliga behaal na ʼn agt-paaltjie-sege oor die Lucknow Super Giants. Arshdeep Singh het vier paaltjies platgetrek en LSG is tot 171 vir sewe beperk. In antwoord het Prabhsimran Singh 69 van 34 balle behaal terwyl kaptein Shreyas Iyer ʼn onoorwonne 52 bygedra het. Punjab het die teiken in 16 boulbeurte en twee balle bereik. Dis LSG se tweede nederlaag uit drie wedstryde. Die Royal Challengers Bengaluru en Gujarat Titans spook vandag sake uit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-121-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-133-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….