Nuus 07:00
BULLETIN 1 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag dien ‘n klag in by die Persombud
# Die Airbnb-regulasies is steeds nie afgehandel nie
# En rugby: Die Blitsbokke sluit David Brits en Sebastiaan Jobb in vir Singapoer
# Die Nasionale Vervolgingsgesag ontken bewerings dat uitvoerende hoofde by sy werksaamhede inmeng. ‘n Verslag in die Sunday World beweer president Cyril Ramaphosa, die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, en die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, werk saam met die NVG om adjunkpresident Paul Mashatile te vervolg. Die NVG het ʼn amptelike klag teen die Sunday World se redakteur aanhangig gemaak en sal ook ʼn amptelike klag by die Persombud indien. Die vervolgingsliggaam hou vol hy voer sy mandaat uit sonder vrees, guns of vooroordeel.
# AfriForum het die regering beskuldig dat hy die Nasionale Water- en Sanitasie-indaba wat verlede week gehou is, misbruik. Die indaba het rolspelers soos waterrade en opvangsbestuursinstellings byeengebring om ʼn plan te ontwikkel om probleme in die sektor op te los. Marais de Vaal van AfriForum sê president Cyril Ramaphosa se beloftes om onmiddellike oplossings vir die land se waterkrisis te vind, is ʼn goeie voorbeeld van die regering se mooipraatjies, maar is niks meer as ʼn meestersklas in die misbruik van die openbare diskoers nie:
# Suid-Afrika het steeds nie nasionale regulasies vir korttermynverblyf nie, al het die Departement van Toerisme die proses ses jaar gelede begin. Die regering finaliseer nou die beleid wat Airbnb-bedrywighede kan hervorm, insluitend verpligte registrasie en huurbeperkings. Eiendoms-kenners waarsku oor die moontlike uitwerking op beleggings en die bekostigbaarheid van behuising, veral in Kaapstad, waar daar meer Airbnb-plekke beskikbaar is as langtermynverhurings. Kenners sê as hierdie veranderings aanvaar word, sal dit plaaslike huurders baat, maar kan toerisme benadeel.
# Die saak teen ‘n Zimbabwiese burger wat beskuldig word van die moord op ses gemeenskapspatrolleerders in Soshanguve, word vandag hervat in die Landdroshof in Pretoria-Noord vir die konsolidering van aanklagte. Hy het gister in die hof verskyn op verskeie aanklagte van moord, poging tot moord en roof met verswarende omstandighede. Die Nasionale Vervolgingsgesag se streekswoordvoerder, Lumka Mahanjana, sê die beskuldigde is in ‘n afsonderlike saak gearresteer en uitgeken in ’n identiteitsparade terwyl hy in aanhouding was:
# Die dodetal na die kragtige aardbewing van 7,7 wat Mianmar verlede week getref het, het tot meer as twee-duisend gestyg terwyl byna 300 mense vermis word. Talle lande soos China en Rusland het hulpbronne ontplooi om met soek- en reddingsoperasies te help. Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê reddingsoperasies word bemoeilik deur struikelblokke soos beskadigde paaie, ineengestorte brûe, onstabiele kommunikasie en probleme wat verband hou met burgerlike konflik. Mianmar het ʼn nasionale week van rou afgekondig met vlae wat halfstok hang.
# Rugby: David Brits en Sebastiaan Jobb is opgeroep om by die Springbok-sewes aan te sluit in aanloop tot die naweek se wêreldreeks in Singapoer. Hulle vervang onderskeidelik die beseerde Quewin Nortje en Gino Cupido. Die Blitsbokke het die afgelope naweek by die Hongkong-sewes gesukkel en negende geëindig. Brits sê hy is vol vertroue die span kan beter doen in Singapoer, waar hulle in Groep A teen Groot-Brittanje en Argentinië kragte meet:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-555-dollar-40-sent. Die prys van goud is drie-duisend-132-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….