Nuus 07:00
BULLETIN 31 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê ras is nie belangrik in die keuse van ‘n ambassadeur in die VSA nie
# ActionSA sê landsburgers kan nie betaal vir die wanbestuur van die regering van nasionale eenheid nie
# En kenners voorspel die dodetal in die Mianmar-aardbewing sal tot meer as 10-duisend styg
# Die ANC-NUK-lid en minister van Internasionale Betrekkinge, Ronald Lamola, sê die bes gekwalifiseerde persoon sal aangestel word as Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika. Daar is oproepe dat president Cyril Ramaphosa ‘n wit persoon aanstel om Ebrahim Rasool te vervang terwyl die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, oud-DA-leier Tony Leon aanbeveel. Die pos is beskikbaar sedert Rasool uit Amerika verban is omdat hy president Donald Trump en sy administrasie van meerderwaardigheid beskuldig het. Lamola sê die ANC is nierassig:
# ActionSA sê hy verwerp enige belastingverhogings wat hardwerkende Suid-Afrikaners dwing om te betaal vir die wanbestuur van die regering van nasionale eenheid en die korrupsie wat die land uitgehol het. Minister van Finansies, Enoch Godongwana, het die DA se rol in die bevordering van die inkorting van inkomstebelasting-kategorieë bekend gemaak. ActionSA se Alan Beesley sê dit is nog ‘n las op hardwerkende Suid-Afrikaners, van wie reeds verwag word om te betaal vir die regering se korrupsie, onnoselheid en vermorsing:
# Die Departement van Landbou sê hy het beheermaatreëls verskerp om die verspreiding van bek-en-klouseer in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap te bekamp. In KZN is 165 gevalle aangemeld en 40 in die Oos-Kaap. Die departement sê die voortgesette toetsing op aangewese eiendomme wil toesigpogings afhandel met die hoop dat bek-en-klouseer-beperkings binnekort opgehef kan word. Die departement moedig boere aan om diere se beweging te beperk en versigtig te wees wanneer hulle diere aankoop.
# AfriForum se Privaat Vervolgingseenheid sê hy verwerp enige bewerings dat die eenheid ’n vermeende verkragter van ’n polisieondersoek beskerm. Die eenheid verteenwoordig Jaco Pieterse, skoolhoof van Bergview Kollege in Matatiele, in die Oos-Kaap. Barry Bateman van AfriForum sê Pieterse is nie ‘n verdagte in die verkragtingsaak waarby ‘n leerder van die skool betrokke is nie, en die polisie het hom ook nie as ‘n verdagte beskou wat hul versoek vir ‘n deppermonster vir DNS-toetsing sal regverdig nie:
# Die Amerikaanse Agentskap vir Geologiese Opname voorspel dat die dodetal ná die kragtige aardbewing van 7,7 in Mianmar die tienduisend-kerf kan verbysteek. Minstens een-duisend-700 sterftes en drie-duisend-400 beseerdes is reeds aangemeld nadat die ergste aardbewing in meer as ʼn eeu die oorloggeteisterde land Vrydag getref het. In nabygeleë Thailand het die dodetal tot 18 gestyg. Owerhede sê reddingspogings word belemmer deur beskadigde paaie, ineengestorte brûe, swak kommunikasie en die uitdaging om op te tree in ʼn land waar ʼn burgeroorlog woed.
# Krieket: Die Australiër Mitchell Starc het geskitter met die bal in die Delhi Capitals se sewe-paaltjie-sege oor Sunrisers Hyderabad in die Indiese Premierliga. Starc het sy eerste vyf-paaltjie-oes in T20-krieket behaal en die Sunrisers tot 163 beperk. In antwoord daarop het die Suid-Afrikaner Faf du Plessis 50 aangeteken en die Delhi Capitals het die teiken bereik met 30 balle oor. In Guwahati het Nitish Rana 81 lopies behaal en die Rajasthan Royals hul eerste oorwinning in die huidige veldtog besorg met ʼn ses-lopie-sege oor die Chennai Super Kings.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-94-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-783-dollar-30-sent. Die prys van goud is drie-duisend-90-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….