Nuus 07:00
BULLETIN 28 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VSA is nie verplig om Suid-Afrika te raadpleeg oor ambassadeursaanstellings nie
# Die EFF verwelkom die Konstitusionele Hof se afwysing van AfriForum se aansoek
# En Europese lande sê dit is nie nou die tyd om sanksies teen Rusland op te hef nie
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het bevestig Suid-Afrika gaan die agtergrond van die pas aanstelde Amerikaanse ambassadeur, Brent Bozell, nagaan, en dat die land nie geraadpleeg is oor die keuse nie. President Donald Trump het die benoeming van die regsgesinde media-kritikus aangekondig te midde van groeiende spanning tussen die lande. Ntshavheni het ook Amerikaanse besorgdheid oor die regering se grondhervormingsbeleid verwerp en sê dis gegrond op vals voorstellings:
# Die EFF verwelkom die Konstitusionele Hof se besluit om AfriForum verlof tot appèl te weier teen die sing van Kill the Boer. AfriForum wou appelleer teen vorige uitsprake dat dit nie haatspraak is wanneer EFF-president Julius Malema Kill the Boer dreunsing nie. Die EFF sê hy het nog altyd gesê dis nie ‘n oproep tot geweld nie, maar teen kolonialisme en apartheid. Hy sê AfriForum se bewerings van sogenaamde wit volksmoord is volgens hom rassistiese paranoia.
# Die DA in Gauteng het LUR Lebogang Maile aangemoedig om te verseker dat slegs gekwalifiseerde en korrupsievrye kandidate aangestel word op die Gautengse Drankraad se kommissie van ondersoek na korrupsie. Vandag is die sperdatum vir aansoeke. Mike Moriarty van die DA sê die kommissie moes al lankal in werking gewees het terwyl sake-eienaars kla oor die vertraging met die goedkeuring van drank-lisensies. Die DA dring aan op deursigtigheid en beloof om die ondersoek noukeurig te monitor om aanspreeklikheid te verseker en die vermorsing van fondse te voorkom.
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, sê daar moet toenemend druk op Rusland uitgeoefen word met nuwe en strenger sanksies, byvoorbeeld op energie-inkomste. Meer as 30 Europese lande het gister in Parys vergader. Brittanje en Frankryk het ooreengekom om ʼn militêre afvaardiging na Oekraïne te stuur om saam met Kiev se weermag te werk en vir die toekoms te beplan. Starmer sê dis duidelik dat Rusland speletjies speel omdat hy nie instem tot ʼn tydelike skietstilstand van 30 dae nie:
# Gholf: Die Suid-Afrikaner JC Ritchie het met sewe onder baansyfer 65 geopen om voor te loop in die eerste ronde van die DNi Tour-kampioenskap in Pretoria. Daniel van Tonder, wat hierdie seisoen reeds vier titels opgeraap het, is een hou agter hom. George Coetzee, wat verlede week se Serengeti-uitspeelwedstryd gewen het, en Jacques Blaauw is na die eerste dag saam derde met vyf onder baansyfer. Ritchie sê hy het die afgelope paar weke baie goed gespeel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-205-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-65-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-10-sent per vat.
# En ten slotte: Kunsmatige intelligensie kan help om fetale abnormaliteite op swangerskapskanderings byna twee keer so vinnig as mense op te spoor, maar met dieselfde akkuraatheid. Dit is volgens die uitslae van ‘n Britse studie waaraan 78 swanger vroue en 58 sonografiste deelgeneem het. Die studie het gefokus op die bespeuring van hartprobleme met die 20-week skanderings, maar navorsers sê KI kan enige abnormaliteit soek. KI was ook meer betroubaar en 42-persent vinniger as mense met fetale metings, dus hoef sonografiste nie meer beelde te stop, meet en stoor tydens ‘n skandering nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….