Nuus 07:00
BULLETIN 27 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party weerlê bewerings van onderhandelinge met die ANC oor die begroting
# Die verbruikersvertroue-indeks toon ’n ingrypende daling die eerste kwartaal van 2025
# En die Amerikaanse Intelligensiehoof erken die byvoeging van ‘n joernalis by ‘n groepklets was ‘n fout
# Die MK-party se sekretaris-generaal, Floyd Shivambu, het gerugte van bilaterale samesprekings met die ANC oor die begroting ontken. Die ANC soek ondersteuning by opposisiepartye om seker te maak die begroting word volgende week in die Parlement aanvaar. Die meeste partye weier om die begroting goed te keur weens die voorgestelde BTW-verhoging van 0,5-persent. Shivambu sê hulle gaan nie ‘n begroting aanvaar wat armes verder benadeel nie:
# FNB en die Universiteit Stellenbosch se Buro vir Ekonomiese Navorsing sê verbruikersvertroue het in die eerste kwartaal van hierdie jaar dramaties gedaal. Die voorgestelde BTW-verhoging en die gebrek aan aanpassings in belastingkerwe vir individue sowel as die verswakte diplomatieke verhoudings tussen Suid-Afrika en die VSA het ‘n negatiewe invloed op sentiment gehad. Die 14-punte-daling in die indeks is op dieselfde vlak as toe Suid-Afrika vir die eerste keer in die eerste kwartaal van 2023 na fase 6-beurtkrag oorgeskakel het. Die eerste kwartaal se vooruitsig van minus-20 is ook die laagste sedert die eerste helfte van 2023.
# Die DA in Tshwane sê die ANC-geleide regering se voorgestelde metrobegroting wil sy inkomste uit hoër eiendomsbelasting aanvul met ʼn nuwe waardasierol en ʼn nuwe belasting instel. Die nuwe belasting is in die vorm van ʼn heffing om die stad skoon te maak. Jacqui Uys van die DA sê dit gaan veral armer en middelklas-huishoudings raak. Sy sê hulle het drie voorstelle om die belastinglas op inwoners te verlig:
# Minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sal vandag die Minister- en LUR-vergadering vir die eerste kwartaal in Polokwane, Limpopo, open. Die vergadering, wat deur al nege provinsies bygewoon word, sal die toestand van infrastruktuur hersien en planne aanvaar om ekonomiese groei en werkskepping te bevorder. Voor die vergadering sal amptenare die bouterrein van die Limpopo-teater by die Bakone Malapa Opelug-museum besoek vir ‘n toesighoudende inspeksie.
# Amerika se direkteur van Nasionale Intelligensie, Tulsi Gabbard, sê dit was ʼn fout om ʼn joernalis in te sluit by ʼn hoëvlakgesprek oor lugaanval-planne, maar herhaal geen geklassifiseerde inligting is gedeel nie. The Atlantic het nog boodskappe van die groepsgesprek gepubliseer waarby die tydskrif se hoofredakteur, Jeffrey Goldberg, per ongeluk gevoeg is. Die boodskappe onthul dat spesifieke sensitiewe inligting oor Houthi-teikens in Jemen bespreek is. Gabbard het aan die Huis se Intelligensiekomitee gesê hulle stel ondersoek in:
# Rugby: Die Blitsbokke se hoofafrigter, Philip Snyman, en kaptein Selvyn Davids hoop vir spesiale verjaarsdaggeskenke in Hongkong hierdie naweek. Snyman het gister sy 38ste verjaarsdag gevier en Davids sy 31ste, terwyl hulle voorberei vir die wêreldreeks-toernooi in die stad. Davids, wat in 2017 sy Blitsbok-debuut in Hongkong gemaak het, sê hulle wil sake regstel omdat hulle nog nooit die toernooi kon wen nie. Die Blitsbokke, wat tans vierde op die punteleer is, speel hulle groepswedstryde teen Australië, Nieu-Seeland en Uruguay.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-207-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-27-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….