Nuus 07:00
BULLETIN 24 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP-president sê die party het ‘n onmeetbare bydrae tot die land gelewer
# Minister Tau versoek openbare insette oor die Transformasiefonds
# En die Kanadese premier kondig ‘n blitsverkiesing af
# IVP-president, Velenkosini Hlabisa, sê die party het ‘n groot nalatenskap en ʼn getuienis van volharding en integriteit. Die party het gister sy 50ste herdenking by die Prins Mangosuthu Buthelezi-stadion in Ulundi, in Noord-KwaZulu-Natal gevier. Die vieringe het op ʼn hartseer noot begin toe ʼn bus met ondersteuners op pad na die stadion op die R34 naby Vryheid omgeslaan het. Altesaam 22 mense is beseer. Hlabisa sê die IVP se rol in Suid-Afrika se soeke na vryheid, eenheid en demokrasie kan nie onderskat word nie:
# Die minister van Handel en Nywerheid, Parks Tau, het ‘n konsepplan vrygestel vir ‘n Transformasiefonds van 100-miljard-rand om ondernemings in swart besit te steun. Die voorstel, wat tot 7 Mei oop is vir openbare kommentaar, wil privaat, openbare en ontwikkelingsfondse saamvoeg. Kritici, onder wie die DA, waarsku dit sal swart ekonomiese bemagtigings-verpligtinge vermeerder en lei tot korrupsie. Tau hou vol geen nuwe vereistes sal gestel word nie. Hy sê die fonds sal fokus op klein ondernemings, veral dié wat besit word deur vroue, jongmense en gestremdes in landelike gebiede.
# Die EFF in Gauteng is woedend oor die moord op vier gemeenskapspatrolleerders die naweek in Soshanguve se Marry Me-informele nedersetting in Pretoria. Die slagoffers, wat besig was om die gemeenskap te beskerm, is geskiet en deels verbrand. Die party kritiseer die polisie se stadige reaksie en waarsku oor toenemende misdaad in die gebied. Die EFF eis dringende ingryping, met meer patrollies en intelligensiepogings. Hulle vra ook spoedige geregtigheid.
# Die Kanadese eerste minister, Mark Carney, het ʼn algemene verkiesing afgekondig wat op 28 April plaasvind. Hy het die rol as Liberale Party-leier en eerste minister oorgeneem nadat sy voorganger, Justin Trudeau, in Januarie bedank het te midde van sy ongewildheid in peilings en interne probleme in sy kabinet. Carney se hoofteenstander in die verkiesing sal die Konserwatiewe Party-leier, Pierre Poilievre, wees. Carney sê hy het ʼn duidelike mandaat nodig om sake met Amerika se president Donald Trump te hanteer:
# Motorsport: Drie renjaers is by die F1 Chinese Grand Prix gediskwalifiseer nadat hulle nie tegniese ondersoeke na die wedren kon slaag nie. Charles Leclerc van Ferrari het sy vyfde plek verloor omdat sy motor ondergewig was. Sy spanmaat Lewis Hamilton, wat sesde geëindig het, is gediskwalifiseer omdat sy motor minder as die vereiste dikte gehad het. Alpine-bestuurder Pierre Gasly het sy elfde plek verloor omdat hy nie die gewigstoetse kon slaag nie. Oscar Piastri van McLaren het die wedren in Sjanghai gewen. Sy spanmaat Lando Norris was tweede en George Russell van Mercedes derde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-673-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-21-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-1-sent per vat.
# En ten slotte: Die adjunkpresident en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigs-raad, Paul Mashatile, lewer vandag die hoofrede by die nasionale herdenking van Wêreld TB-Dag in KwaZulu-Natal. Vanjaar se amptelike tema is Yes! You and I Can End TB –Commit, Invest, Deliver. Suid-Afrika is een van die lande met die hoogste TB-syfers wat die meeste sterftes veroorsaak. Sowat 56-duisend mense in die land sterf jaarliks aan TB waarvan meer as 54-persent MIV-positief is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….