Nuus 07:00
BULLETIN 20 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê Suid-Afrika wil sy betrekkinge met die VSA herstel
# Die VN vra vir ‘n ondersoek na die dood van ‘n personeellid in ‘n lugaanval in Gaza
# En gholf: Die Noorweër Karoline Lund loop voor in die Platinum Vroue Ope
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê Suid-Afrika is verbind om wedersyds voordelige handels- en diplomatieke betrekkinge met Amerika te verbeter. Suid-Afrika se ambassadeur, Ebrahim Rasool, se uitsetting uit Amerika het die land in ‘n nuwe diplomatieke krisis gedompel wat die reeds gespanne verhouding verder belemmer. Mashatile sê die regering wil die land se uitvoermarkte diversifiseer om nie net op ʼn enkele handelsvennoot staat te maak nie. Hy sê hulle ondersoek geleenthede om handelsbande met lande soos Japan, China, Rusland, Indië en Europese lande uit te brei.
# Die DA sê die 2024-2029 Mediumtermyn-ontwikkelingsplan wat in die Parlement ter tafel gelê is, is ʼn goeie eerste tree in die ontwikkeling van ʼn regering van nasionale eenheid se groei- en ontwikkelingsagenda. Die program het drie strategiese voorkeure: bevorder inklusiewe ekonomiese groei en werkskepping, verminder armoede en takel hoë lewenskoste, en bou ʼn bevoegde, etiese ontwikkelingstaat. Die DA se beleidshoof, Mat Cuthbert, sê die plan gaan nie ver genoeg wat groei en werksgeleenthede betref nie:
# Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding sê die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente het sy befondsingsteikens oortref en meer as 542-duisend universiteitstudente vir die 2025 akademiese jaar gehelp. Meer as een-miljoen studente het by universiteite of kolleges ingeskryf. Die adjunkminister, Buti Manamela, sê inskrywings by gemeenskapsonderwys- en opleidingskolleges is egter laer as verwag. Ten spyte van voortdurende administratiewe uitdagings word daar gepoog om doeltreffendheid te verbeter en beter werksgeleenthede vir gegradueerdes te verseker.
# Die Verenigde Nasies se Kantoor vir Beskermingsdienste vra ʼn volledige ondersoek na die dood van ’n personeellid in Gaza. Die persoon is dood en minstens vyf ander is Woensdagoggend beseer in ʼn ontploffing by twee VN-gastehuise in Deir al Balah. Die Israelse weermag wat sedert Dinsdag swaar lugaanvalle uitvoer, ontken dat die VN-kamp in sy visier was. Die kantoorhoof, Jorge Moreira da Silva, sê dit was nie ʼn ongeluk nie:
# Gholf: Karoline Lund van Noorweë loop voor by die Platinum Vroue Ope nadat sy sewe onder baansyfer 64 in die aanvangsronde by die Blair Atholl Gholf- en Perdelandgoed in Gauteng aangeteken het. Die 26-jarige Lund is een hou voor Nikki Hofstede van Nederland en Hayley Davis van Engeland. Die Suid-Afrikaners Casandra Alexander en Tandi McCallum is twee houe agter die voorloper op vyf onder baansyfer. Die prysgeld is met nog 200-duisend-rand tot 1,2-miljoen-rand verhoog. Lund sê haar strategie is om voort te gaan met aggressiewe spel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-134-dollar-40-sent. Die prys van goud is drie-duisend-55-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-9-sent per vat.
# En laastens: Die Gauteng-regering sal vandag die afgestorwe strydikoon Winnie Madikizela-Mandela op Konstitusieheuwel in Johannesburg vereer. LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, sal die gedenklesing as deel van die Menseregtedagvieringe lewer. Die geleentheid vier Madikizela-Mandela se nalatenskap as ‘n anti-apartheidsaktivis wat verbannings, detensie en politieke vervolging verduur het. Sy het later in die regering gedien en haar lewe aan gemeenskapsontwikkeling gewy.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….