Nuus 07:00
BULLETIN 18 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê Suid-Afrika hanteer die probleme by die land se hawens
# Elektrisiteitskoste styg met Nersa se goedkeuring van Eskom se tariefverhoging
# En krieket: Faf du Plessis is die Delhi Capitals se onderkaptein in die Indiese Premierliga
# Adjunkpresident Paul Mashatile het uitvoerende hoofde van die Japannese voertuigvervaardiger, Isuzu, verseker Suid-Afrika is aktief besig om sy hawe- en infrastruktuurkwessies aan te spreek. Hy het sy driedaagse werksbesoek gister in Tokio begin met ‘n besoek aan die Isuzu Fujisawa Plant Service. Die Isuzu Motors Suid-Afrika se Struandale-aanleg in Gqeberha in die Oos-Kaap, vervaardig jaarliks 28-duisend-500 voertuie en het handelaars in 26 Afrikalande. Mashatile beskryf Isuzu as ʼn model-belegger in Suid-Afrika wat bydra tot werkskepping, vaardigheidsontwikkeling en verskaffer- en projekontwikkeling.
# Suid-Afrikaners kan skerp stygings in kragtariewe verwag en Eskom se regstreekse verbruikers kan volgende maand tot 12,74-persent meer betaal. Munisipaliteite sal ‘n verhoging van 11,32-persent deurgee vanaf 1 Julie. Die verhogings is deel van Eskom se strategie om goedgekeurde inkomste te verhaal en finansiële uitdagings die hoof te bied. Die energie-reguleerder Nersa se woordvoerder, Charles Hlebela, sê aandeelhouer-terugvoering is in ag geneem voor die verhogings goedgekeur is wat huishoudings, sake-ondernemings en munisipale verbruikers sal raak:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sal in Boksburg gasheer wees vir die Tanzaniese minister in die Presidensie, om Suid-Afrika se Uitgebreide Openbare Werke-program te bespreek. Die vergadering sal fokus op transformasie deur entrepreneurskap en vaardigheidsontwikkeling. Die Tanzaniese afvaardiging, insluitend regeringsamptenare, die privaat sektor en akademici, sal ondersoek instel oor hoe die verbetering van die Uitgebreide Openbare Werke-program plaaslik en internasionaal ‘n betekenisvolle uitwerking kan hê.
# AfriForum het volgens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting ʼn aansoek by elk van Gauteng se drie metropolitaanse munisipaliteite, Ekurhuleni, Johannesburg en Tshwane ingedien. Hulle wil feite oor hierdie metro’s se hoë watergebruik bekom. Dié drie metro’s se jongste watergebruiksyfers het die hoeveelheid water wat Rand Water kan voorsien met sowat 14-persent oorskry. Marais de Vaal van AfriForum sê die inwoners se reg op water word ondermyn deur munisipaliteite wat nie hul watervoorsieningstelsels behoorlik bestuur nie:
# Die Europese Unie se hoof van buitelandse beleid, Kaja Kallas, sê Rusland wil nie vrede in Oekraïne hê nie en kan nie vertrou word om so ʼn doelwit te bevorder nie. Die Russiese president, Vladimir Putin, ondersteun die idee van ʼn skietstilstand van 30 dae, maar het talle voorwaardes gestel. Dit sluit in dat die basiese oorsaak van die oorlog aangespreek word, asook besonderhede oor wie die skietstilstand toepas en hoe dit gedoen word. Kallas sê Oekraïne het die skietstilstand aanvaar en dis nou in Rusland se hande:
# Krieket: Die gewese Protea-kaptein Faf du Plessis sal Axar Patel se adjunk by Delhi Capitals wees in vanjaar se Indiese Premiersliga. Du Plessis was drie seisoene lank Royal Challengers Bengaluru se kaptein tot verlede jaar, maar is nie behou nie. Delhi het hom op die veiling aangekoop vir 4,3-miljoen-rand. Delhi het nog nooit die kompetisie gewen nie. Du Plessis speel al sedert 2012 in die IPL en het reeds vier-duisend-571 lopies aangeteken in 145 wedstryde. Die IPL begin Saterdag wanneer Kolkata Knight Riders gasheer is vir RCB.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-348-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-1-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….