Nuus 07:00
BULLETIN 3 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Israel verskyn voor die Wêreldhof om Suid-Afrika se Gaza-saak teen te staan
# Nasionale Tesourie ontwikkel ‘n plan om interne beheer te verbeter
# En krieket, David Bedingham is opgewonde oor die moontlikheid om op Nuweland te speel
# Israel sal op 11 en 12 Januarie voor die Internasionale Wêreldhof in Den Haag verskyn om Suid-Afrika se beskuldiging van volksmoord oor die oorlog teen Hamas in Gaza teen te staan. Suid-Afrika het die hof Vrydag gevra vir ‘n dringende bevel wat verklaar Israel verbreek sy verpligtinge onder die Volksmoordkonvensie van 1948 in sy aanvalle op Hamas. Suid-Afrika ondersteun die Palestynse saak vir ʼn staat in Israel reeds dekades lank en het die Palestyne se situasie met dié van die swart meerderheid onder apartheid vergelyk.
# Truth and Energy se kernkrag-ingenieur, Hugo Kruger, beklemtoon dis noodsaaklik vir Eskom om ʼn Plan B te hê om sy beduidende uitdagings teen te werk. Hy wys in ‘n onderhoud met Newzroom Afrika daarop dat Eskom deurentyd worstel omdat ‘n aansienlike deel van sy vermoë instandhouding ondergaan. Kruger kritiseer die regering se aansprake van aggressiewe instandhouding en sê ware instandhouding behels dat eenhede van lyn geneem word, en dit lei tot meer beurtkrag. Kruger voorspel dat afwisselende stadiums van beurtkrag vir ten minste die eerste ses maande van 2024 sal voortduur:
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het bekendgemaak die Nasionale Tesourie het ʼn plan ontwikkel om interne beheer te verbeter, bedrieglike eise vir fondse te beperk en standaarde vir voldoening en verslagdoening vir ongereelde besteding te verbeter. Dit volg op kommer van die EFF oor die bevindings van die Ouditeur-Generaal dat die Tesourie en sy verslagdoenende instellings slegs 69-persent skoon oudit ontvang het. Die plan behels hersiening van kontrakbestuur en -maatreëls deur die Landbank en Openbare Beleggingskorporasie om die ouditkwessies aan te pak.
# Vyfduisend-298 trauma-gevalle reg oor die provinsie is tussen Donderdag en Dinsdag by hospitale se ongevalle-afdelings aangemeld. Dit is meer as ʼn kwart van alle gevalle wat by noodsentrums behandel is. Volgens die Wes-Kaapse Gesondheidsdepartement se Hospital Emergency Centre Triage and Information System bekend as HECTIS, het 20-duisend-73 pasiënte oor die langnaweek se vyf dae by noodsentrums opgedaag en 26-persent van die gevalle het met trauma verband gehou. Volgens HECTIS word daar elke maand in die Wes-Kaap sowat 110-duisend traumagevalle by gesondheidsgeriewe aangemeld.
Intussen het Gauteng se LUR vir Gesondheid en Welstand, Nomantu Nkomo-Ralehoko, tevredenheid uitgespreek met die manier waarop Gauteng se mediese nooddiens tydens die feestyd op noodgevalle gereageer het. Sy het op Oujaarsaand aangesluit by nooddienspersoneel wat aan diens was. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê in die besigste tyd tussen sesuur Sondagoggend en sesuur die oggend op Nuwejaarsdag het die provinsiale nood-kommunikasiesentrum altesaam een-duisend-914 oproepe ontvang:
# Krieket: Die kolwer David Bedingham hoop om sy toetsloopbaan môre in die tweede en laaste wedstryd op Nuweland in Kaapstad voort te sit nadat hy verlede week ʼn indrukwekkende toetsdebuut vir Suid-Afrika teen Indië gemaak het. Die 29-jarige speler het 56 in die eerste toets in Centurion aangeteken toe die Proteas Indië binne drie dae met ʼn beurt geklop het. Bedingham speel sedert 2020 Engelse graafskapskrieket vir Durham, maar het in Kaapstad grootgeword. Hy sê dit sal baie spesiaal wees indien hy vandag op Nuweland speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-58-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-349-dollar-12-sent. Die prys van goud is twee-duisend-63-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….