Nuus 07:00
BULLETIN 28 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau sê Suid-Afrika sal voortgaan om met die VSA te praat oor die nuutste tariewe
# Andy Burnham sê Oekraïne kan op Brittanje se steun staatmaak solank as wat dit nodig is
# En sokker: Banyana Banyana verloor teen Tanzanië in hul openingswedstryd by die Vroue-Afrikabeker
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê die regering onderhandel met Amerika oor die 12,5-persent tarief wat op Suid-Afrikaanse uitvoerprodukte ingestel is. Suid-Afrika is een van 60 lande teen wie tariewe ingestel is na ‘n ondersoek deur die Amerikaanse handelsverteenwoordiger wat bevind het die lande tree nie behoorlik op teen dwangarbeid-praktyke nie. Tau sê die regering sal ʼn kennisgewing in die Staatskoerant publiseer en openbare kommentaar versoek oor die voorneme om ‘n regulasie uit te vaardig om goedere te verbied wat met behulp van dwangarbeid en kinderarbeid vervaardig word.
# Business Leadership South Africa se Reform Tracker se kwartaallikse bywerking toon goeie vordering by Binnelandse Sake en openbare dienste, maar kommer bestaan oor elektrisiteit en logistiek. Die verslag gee erkenning aan die Departement van Binnelandse Sake vir vordering met elektroniese visums, eenvoudiger toegang vir toeriste en beter besoekergetalle. BLSA se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê die probleem by elektrisiteit sluit in vertragings met afhandeling van regulasies vir die Suid-Afrikaanse grootmaat-elektrisiteitsmark. Sy sê die ontbondeling van die krag- en spoornetwerk is ʼn noodsaaklike voorvereiste vir belegging in die land se behoeftes.
# Die DA in die Wes-Kaap sê polisie-besluite verlede week deur die minister en lede van die uitvoerende raad beteken niks sonder werklike implementering nie. Dit volg terwyl Kaapstad gebuk gaan onder verdere bloedvergieting. Vyf mense is gister in Gugulethu doodgeskiet, dae nadat drie mans in ‘n skietery in Khayelitsha dood is. Benedicta van Minnen van die DA sê gemeenskappe het aksie nodig eerder as beloftes om geweldsmisdaad te bekamp:
# Die Britse eerste minister, Andy Burnham, sê hulle sal nie terugstaan voor ʼn blywende en regverdige vrede in Oekraïne bereik word nie. Hy het die Oekraïnse president, Volodymyr Zelensky, gister by die Portsmouth-vlootbasis ontvang. Die twee leiers het met meer as 200 Oekraïnse militêre personeel vergader wat deel was van ʼn vloot-veiligheidsoperasie in Brittanje. Burnham sê Brittanje sal die intellektuele eiendom agter sy nuwe “Stone Cloak” elektroniese stelsel aan Oekraïne beskikbaar stel wat Russiese lugafweer kan blokkeer en verhoed dat hommeltuie opgespoor word:
# Sokker: Die verdedigende kampioene, Banyana Banyana, het met 2-1 teen Tanzanië verloor in hul Groep B-openingswedstryd van die Vroue-Afrikabeker in Casablanca, Marokko. Tanzanië het na ʼn doel deur Diana Msewa voorgeloop, maar Bambanani Mbane het aan die einde van die eerste helfte die telling vir Suid-Afrika gelykop gemaak. Hasnath Ubamba het die Tanzaniërs se wendoel aangeteken. Banyana Banyana staar ʼn opdraande stryd in die gesig om die uitklopronde te haal, met Ivoorkus en Burkina Faso wat nog in die groep is. Die vier semi-finaliste kwalifiseer outomaties vir volgende jaar se Vroue-Wêreldbeker in Brasilië.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-139-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-44-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-25-sent per vat.
# En ten slotte: Lamb Champs het die bekendstelling van sy eerste internasionale uitnodigingskompetisie aangekondig. Suid-Afrika en Namibië sal op 31 Oktober in Pretoria kragte meet. Die nuwe kompetisie sal spanne van tien skaapboere vanuit elke land insluit en het ten doel om Lamb Champs uit te bou tot ‘n internasionale platform wat topgehalte-lamsvleis en uitnemendheid in die landboubedryf vier. Lamb Champs se stigter en uitvoerende hoof van die Suider-Afrikaanse Landbou-inisiatief, Francois Rossouw, sê die geleentheid sal voorste skaapboere in die kollig plaas, mededinging tussen buurlande versterk en die lamsvleisbedryf op ‘n groter verhoog bevorder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….