Nuus 07:00
BULLETIN 14 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mchunu respekteer Ramaphosa se besluit om hom op spesiale verlof te plaas
# Minister Malatsi bevestig dat ‘n nuwe befondsingsmodel vir die SABC ontwikkel word
# En City Power begin die week met die oudit van kragmeters
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, sê hy verwelkom president Cyril Ramaphosa se besluit om hom met onmiddellike ingang op spesiale verlof te plaas. Dit is terwyl ‘n kommissie van ondersoek bewerings deur KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, ondersoek. Hy beskuldig die minister dat hy inmeng by sensitiewe polisieondersoeke en met sakepersone, insluitend moordbeskuldigdes, saamgespan het om die taakspan oor politieke moorde te ontbind. Mchunu se woordvoerder, Kamogelo Mokgotse, sê die minister ondersteun die proses:
Ramaphosa sê intussen terwyl die regering die stryd teen misdaad verskerp, is dit noodsaaklik dat die integriteit en geloofwaardigheid van die polisie en ander wetstoepassingsagentskappe beskerm word. Ramaphosa sê Suid-Afrikaners is bekommerd oor korrupsie en die toename in misdaad in die land:
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, sê die proses om ‘n nuwe befondsingsmodel vir die SABC te ontwikkel is aan die gang. Die regering het 704-miljoen-rand oor drie jaar aan die openbare uitsaaier toegeken, insluitend 43-miljoen vir inhoud, 464-miljoen vir sy mandaat en 197-miljoen-rand vir Channel Africa. Die minister het aan die SABC News gesê die befondsing is noodsaaklik om te midde van finansiële druk dienste te onderhou:
# City Power sal dié week elektrisiteitsmeter-oudits in verskeie dele van Johannesburg uitvoer. Die veldtog begin vandag in die Randburg-diensleweringsentrum se voorsieningsgebied en duur tot 18 Augustus. Die optrede wil die akkuraatheid van fakture en operasionele doeltreffendheid verbeter. Kliënte met meters wat foutief of aan gepeuter is kan afsluiting en boetes van meer as 14-duisend-rand vir enkelfase- en 30-duisend-rand vir driefase-verbindings verwag. Inwoners word versoek om tegnici se dokumente na te gaan.
# Die 82-jarige voormalige Nigeriese president Muhammadu Buhari is Sondag na ʼn lang siekbed in ʼn Londense kliniek dood. Buhari het die Afrika-land met die grootste bevolking van 2015 tot 2023 gelei. Gedurende sy ampstermyn was daar ʼn skerp daling in die olieprys en sy land het die grootste ekonomiese krisis in dekades beleef. Die huidige president, Bola Ahmed Tinubu, sê hy het visepresident Kashim Shettima opdrag gegee om na die Verenigde Koninkryk te reis en Buhari se liggaam terug te bring na Nigerië.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een Jannik Sinner het die tweemalige verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, geklop en sy eerste Wimbledon-titel gewen. Die 23-jarige speler het met sy sege van 4-6, 6-4, 6-4, 6-4 teen die Spanjaard vergoed vir sy nederlaag verlede maand in die Franse Ope en sy vierde Grand Slam-titel opgeraap. Hy is ook die eerste Italianer om die Wimbledon-enkelspelkroon te dra. Sinner sê dis ʼn spesiale oomblik om die trofee te wen en sê hy lewe sy droom:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-96-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-987-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-361-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….